OUDTSHOORN NUUS - 'n Oudgevangene wat 'n vonnis van 13 jaar vir moord uitgedien en vroeër ook betrokke was by dwelms en bendebedrywighede, het 'n nuwe blaadjie omgeslaan. William Jansen het Dinsdag ongeveer 300 kinders van die Black Joint- en Kanaal-omgewing met 'n heerlike ete bederf.
Jansen, ook bekend as 'Ou Pit', sê hy het na sy vrylating 'n tyd gelede besluit dat hy voortaan 'n skoon paadjie wil loop.
Hy het begin deur 'n klompie skape, bokke, hoenders en selfs 'n paar beeste aan te skaf waarmee hy en sy vrou nou 'n bestaan voer.
Dinsdag het hy met die ondersteuning van die GPF (Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum) drie skape geslag en die groot aantal kinders van die omgewing behoorlik bederf.
Volgens Pat Blaauw, voorsitter van die GPF, is Jansen se verhaal 'n sprokie en 'n bewys dat enige persoon sy lewe kan verander indien hy wil.
"Die GPF ondersteun mense soos Jansen wat ook wil terugploeg en 'n verskil in hul gemeenskap wil maak," sê Blaauw.
Die eerste byeenkoms was baie suksesvol en 'n tweede word vir 6 Januarie 2020 in die Bongolethu Thusong-sentrum beplan.
Belangstellendes kan Blaauw by 071 520 9231skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'