OUDTSHOORN NUUS - Met die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn om die draai, het feesorganiseerders en die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n versoek aan besoekers gerig om die fees op 'n verantwoordelike wyse te geniet.
Wees waterwys
Volgens die burgemeester van die munisipaliteit, Colan Sylvester, is dié Karoodorp tans 'n droogtegeteisterde gebied met 'n damvlak van slegs 36%. "Gebruik water spaarsamig, want elke druppel tel", sê Sylvester.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê dat die feeskantoor 'n versoek aan stalletjiehouers en ander kontrakteurs gerig het om water tydens die fees oordeelkundig te gebruik.
'n Paar waterwenke vir kultuurdiere wat na Oudtshoorn migreer, sluit die volgende in:
- Bring water van die huis af;
- Moenie krane onnodig laat loop nie en meld enige lekkasies onmiddellik aan;
- Kook slegs die hoeveelheid water wat jy benodig;
- Indien jy op Oudtshoorn bly tydens die fees, was groot bondels wasgoed op 'n slag, of selfs beter, bring genoeg klere sodat jy nie wasgoed hoef te was nie;
- Stort eerder as om te bad en maak seker jou stort duur nie lank nie;
- Hergebruik handdoeke en vra jou gasheer of gasvrou om nie beddegoed onnodig te was nie, of nog beter, bring jou eie handdoeke en beddegoed;
- Bring genoeg waterlose handwasmiddel sodat jy nie jou hande by 'n wasbak of kraan hoef te was nie;
- In die gees van die fees, gooi eerder 'n vleisie op die kole as om kos te kook;
- Les jou dors by die verskeie watergate in die dorp!
Herwinning is ook belangrik
Herwinning is ook vanjaar 'n prioriteit. Volgens Theart het die KKNK, in samewerking met Cango Wildlife Ranch en die munisipaliteit, 'n projek van stapel gestuur om bewusmaking oor herwinning te bevorder.
"Ses eenhede is vir dié doel deur Cango Wildlife Ranch gebou en word in die Kuierbuurt saam met ander vullisdromme geplaas sodat herwinbare materiaal direk na 'n herwinningsaanleg gestuur kan word," het Theart gesê.
Alle besighede word aangemoedig om deel te neem aan hierdie projek. Meer inligting is by die feeskantoor of die munisipaliteit beskikbaar.
Veiligheid by die fees
Feesgangers se veiligheid is ook topprioriteit en daarom is streng maatreëls in plek om die Kuierbuurt en ander feesareas te polisieër en 'n veilige fees te verseker.
"Sekuriteit word tydens die fees opgeskerp en beter beligting word in donker areas op die terrein aangebring. Alle lede van die Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) is in gereelde gesprek en vergader daagliks. Indien feesgangers tydens die fees enige ongerymdhede of noodgevalle gewaar, moet hulle dit dadelik telefonies by die GOS aanmeld deur 044 203 8656 te bel."
Besoekers word aangemoedig om nie alleen - veral saans - rond te beweeg nie en eerder van die Pendeldiens gebruik te maak. Dié diens is van 08:00 tot 22:00 beskikbaar voor die Langenhoven-gedenkbiblioteek in Voortrekkerweg. Kaartjies kos R20 per rit.
Feesgangers wat van George, Beaufort-Wes en Calitzdorp reis moet daarop let dat padwerke op dié toegangsroetes voorkom. Motoriste word herinner aan die ry/stop-punte wat tans in werking is.
KKNK25 se volledige feesprogram is hier beskikbaar en kaartjies vir produksies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600, of verblyf@kknk.co.za gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'