Gallery Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die proses om boomstompe en takke uit die Raubenheimerdam te verwyder, het vanmiddag begin.
Dertien roeiers het vanmiddag in hul kajakke geklim en begin om takke en boomstompe aan wal te bring.
Die skoonmaakproses is deel van ‘n publieke deelnameproses.
Die los takke en boomstompe het in die dam beland na swaar reën in die opvangsgebied verlede week.
Oudtshoorn se water het modderig verkleur na die groot invloei in die dam.
Johan Uys, bestuurder by die munisipaliteit se waterwerke, het Oudtshoorniete genooi om met hul bote, selfs roeibootjies, te kom help: “Die takke en stompe sal na die wal beweeg word, waar munisipale vragmotors dit sal oplaai.”
Uys gaan self op ‘n boot klim en help met die skoonmaakproses.
Vanmiddag het 12 studente en fasiliteerders van Operation Mobilisation Impulse Gap Year Uys se voorbeeld gevolg en begin met die skoonmaakproses. Oudtshoorn se brandweerdienste hou toesig oor die veiligheid van die roeiers.
Die Raubenheimerdam was Maandag 56,69% vol. Vanoggend (Woensdag 21 Februarie) het dit na 55,5% gesak. Uys skryf dit toe aan die vrylating van water vir besproeiingsdoeleindes.
Vir meer inligting oor hoe om by die skoonmaakproses betrokke te raak, kan Uys gedurende werksure op 044 272 4634 gekontak word.
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel: Skoonmaakproses begin by dam
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'