Die storie het nasionale aandag geniet en veral op sosiale netwerke het mense regoor die land hul griewe oor die situasie sterk uitgespreek.
Ses skole, waarvan Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Oudtshoorn twee is, word deur die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) gedagvaar.
Die ander vier skole is Laerskool Randhart in Alberton, Laerskool Baanbreker in Boksburg, Laerskool Garsfontein in Pretoria en Hoërskool Linden in Johannesburg.
Ook die minister van basiese onderwys en die minister van justisie en korrektiewe dienste word gedagvaar.
Volgens die hofstukke is van die klagtes teen Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Oudtshoorn dat hulle Christelik-gebaseerde onderwys toepas, bevorder en geadverteer. Die skole lys ook VCSV as deel van hul kulturele aktiwiteite en hul skooldag word met Skriflesing en gebed geopen.
Daar word ook genoem dat die sportspanne voor 'n wedstryd tot 'n Christelike God bid en dat daar kruise en Bybelversies in klaskamers en rondom die skool is.
By Hoërskool Oudtshoorn word daar ook na 'n Christelike God in die skoollied verwys en moet leerders Bybels saamneem na kampe toe.
Beide Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Oudtshoorn se voorsitters van hul beheerliggame het die week gesê dat hulle die saak in die hof gaan teenstaan.
Christo van der Bergh, voorsitter van Langenhoven Gimnasium se beheerliggaam, voel dat die skool onnodig by die dagvaarding betrek is, veral omdat die ouer wat gekla het nie kinders in hul skool het nie. Hy het ook gesê dat daar nog geen ouer by hom of die skoolhoof gekla het nie en kon die dagvaarding 'n ander pad gestap het indien die mense wat ontevrede is eers met die skool self gepraat het.
Dr. Jaco Jordaan, voorsitter van Hoërskool Oudtshoorn se beheerliggaam, het ook gesê dat hy nie bewus is van sulke klagtes nie.
Beide Jordaan en Van der Bergh het bevestig dat die Christelike geloof nie op leerders afgedwing word nie en dat die leerders wat nie dié geloof aanhang nie, nie verplig word om saalbyeenkomste by te woon en aan enige ander Christelike geleenthede deel te neem nie.
AfriForum het die week in 'n verkla-ring bekend gemaak dat hulle die regskostes van die skole wat die dagvaarding gaan teenstaan gaan dra.
Volgens Carien Bloem, hoof van onderwysveldtogte by AfriForum, is dit ironies dat hulle nie kinders onder dwang aan skoolgodsdiens wil blootstel nie, maar nou self hul teengodsdienstige siening op alle skole wil afdwing.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het ook in 'n verklaring gesê dat geen klagtes by hulle aangemeld is rakende die godsdienspraktyke van die twee Oudtshoorn-skole nie.
Jessica Shelver, woordvoerder van die WKOD, het gesê dat die beleid rondom geloof in skole deur die Suid-Afrikaanse skolewet bepaal word en kan godsdiens beoefening by 'n openbare skool onder reëls wat deur die beheerliggaam ingedien word sodanige beoefening op 'n billike grondslag geskied en bywoning daarvan deur leerders en personeellede is vrywillig.
Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het ook die week gesê dat hulle vandag (Vrydag) in Johannesburg saam met die betrokke skole sal vergader om 'n plan van aksie uit te werk.
"Ons sal die skole raad en leiding gee waar dit nodig is," het hy gesê.
AfriForum sal ook deel wees van die vergadering.
Volgens Hans Pietersen, 'n inwoner van Stellenbosch en die voorsitter van Ogod, het hy niks teen Christenskap of die skole wat gedagvaar is nie.
Pietersen het ook al boeke geskryf wat handel oor geloof in skole. Een van die boeke is, 'Die vrese van ons vaders, geloofonderrig en die Afrikanerkind'.
"Hierdie is bloot skole wie se ouers eerste kom kla het oor die manier waarop geloof in die skool hanteer word. Daar het intussen nog ouers van twee Engelse skole kom kla, maar ons weet nog nie of ons die skole by die lys gaan voeg nie," vertel hy.
Volgens hom gaan dit oor die toepassing van die grondwet op skole en dat elke persoon in die land geregtig is tot die uitlewing van hul eie geloof. Hy voel ook dat skole en staatsinstansies nie mag kies watter geloof hulle aanhang nie en dat skole gelyke geleenthede aan alle gelowe moet bied.
Pieta van den Heever, 'n ouer van Hoërskool Oudtshoorn, het dit die week benadruk dat hy nie die klaer in die saak is nie, maar slegs 'n getuie. Hy het self al drie boeke oor ateïsme geskryf.
"Ek doen dit vir ons kinders. Kinders moet vrylik kan kies watter geloof hulle aanhang en ek is bekommerd oor die spirituele opvoeding in skole. Die doel is om die kwessie van toepassing op skole landwyd te maak en nie net die ses skole wat gedagvaar word nie," vertel hy.
Van den Heever sê wat vir hom die slegste is, is die feit dat mense met wie hy jare lank vriende was hom afgeskryf het omdat hy vir sy standpunt opstaan.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie
vir Godsdiensonderrig en Demokrasie. Foto verskaf
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'