Woensdagoggend het hulle bande gebrand omdat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) weier om aan die ouers se pleidooie om die skoolhoof te verwyder aandag te gee.
Hierdie is nie die eerste drastiese optrede teen die hoof nie. In November 2011 het die beheerliggaam van die skool 'n versoek aan die WKOD gestuur waarin hulle aanbeveel dat Basson afgedank word omdat hy volgens hulle die skool in die grond in bestuur. 'n Week later is die skool se hekke gesluit en 'n griefskrif met 32 griewe is weereens aan die WKOD gestuur.
George Meyer, lid van die advieskantoor op Dysselsdorp sê, hierdie saak kom nou al vir jare aan.
"Die WKOD het toe nie aan die griewe gehoor gegee nie en vandag, drie jaar later, sit ons dan nog met dieselfde probleem," verduidelik hy.
Nog 'n griefskrif met 29 griewe is deur hom en verskeie ouers van die skool opgestel wat saam met 'n petisie na die WKOD gestuur is. Hulle het ook gevra dat iemand van die WKOD tot in Dysselsdorp kom om die probleem met hulle te bespreek, maar niemand het opgedaag nie.
In die griefskrif word daar versoek dat die WKOD onder andere die volgende sake ondersoek: "Die aanranding van 'n gr. 7-leerder, die misbruik van die gr. R-opvoeder om twee leerders wat in bogenoemde saak teen mnr. Basson sou getuig te intimideer en met skorsing te dreig indien sy in die saak sou getuig. (Bewyse in ons besit) en die feit dat mnr. Basson daagliks die betrokke leerders omkoop met lekkergoed na die voorval van aanranding op die leerder."
Ander klagtes wat hulle gevra het om ondersoek te word was die feit dat die hoof se wiskunde-onderrig glo agter is en dat hy soms glad nie opdaag vir klas nie. Die leerdertalle het ook sedert 2009 van 650 na 544 in 2014 gedaal het. Daar word ook in die griewe beweer dat verskeie onderwysers al by die skool weg is as gevolg van Basson en dat daar twee weke gelede 'n leerder op die skoolterrein aangerand is, maar dat die verantwoordelike leerder steeds nie gestraf is nie.
'n Ouer het Woensdag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat haar dogter wat in gr. 4 is na bewering deur 'n seun in haar klas gemolesteer is. Volgens haar het die skool haar nooit laat inkom om die situasie te bespreek nie.
"Sover ek weet het hy haar onder haar rokkie gevat. Hulle is iewers ingeroep en moes mekaar om verskoning vra en hulle het vlugtig met 'n sielkundige gepraat. Ek as ouer is nooit ingeroep nie en die regte prosedures is ook nooit gevolg nie. Ek as ouer voel die skool moes my laat kom het. Die seun se ouers is ook nooit in kennis gestel nie," het sy vertel.
Meyer sê hulle is teleurgesteld in die feit dat die WKOD so traag is met die beantwoording van hul griefskrif en die feit dat niemand met hulle wil kom praat nie.
"Ons sal aanhou met drastiese stappe tot hulle na ons luister. Die ouers soek mnr. Basson nie meer by die skool nie," het hy gesê.
Volgens Paddy Attwell, woordvoerder van die WKOD, is hulle bewus van die situasie en sal die WKOD aandag aan die ouers se klagtes gee. Volgens hom was niemand by die departement bewus van die feit dat die ouers Dinsdag met hulle wou praat nie.

Ouers en lede van die Dysselsdorp-gemeenskap het Woensdagoggend bande voor St Konrad Primêre Skool aan die brand gesteek. Foto: Liezl van Niekerk
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS