Die streekuitdunne van die jaarlikse Shoprite Checkers-boereworskompetisie het met groot vermaak en belangstelling op die parkeerterrein voor Checkers plaasgevind. Die bekende sanger en vermaaklikheidskunstenaar, Basjan, het die toeskouers vermaak terwyl die elf deelnemers hulle wors aan die drie beoordelaars se smaakkliere bekendgestel het.
Die onafhanklike beoordelaars Karin du Plessis (George), David Hyman en Jimmy Smit (albei van Oudtshoorn) het eers die rou wors beoordeel en daarna die gebraaide produk. Deelnemers het hul vure op dieselfde tydstip aangesteek en het almal identiese roosters en kole gebruik om die wors te braai.
Terwyl die kompetisie aan die gang was het personeel van Checkers worsrolletjies aan die publiek verkoop waarvan die inkomste aan die Helen Bellinganhof tehuis vir bejaardes geskenk is.
Steyn het verlede jaar tweede plek behaal in die streekuitdunne en is opgewonde oor die geleentheid wat hy vanjaar gegun word om in September aan die provinsiale uitdunne in Kaapstad te gaan deelneem. Volgens Shoprite Checkers is daar landwyd meer as 1000 inskrywings vir hierdie jaar se worskampioenskap.

Terwyl die boereworskonings meegeding het, het Basjan gesorg vir vermaak en kompetisies vir die toeskouers.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR