Christie Slabbert, het Oudtshoorn Courant verlede week geskakel in `n desperate poging om aandag te vestig op voortslepende kwessies waaraan munisipale amptenare glo geen aandag skenk nie.
Volgens Slabbert is die woonbuurt vinnig besig om agteruit te gaan. Hierdie agteruitgang kan, volgens Slabbert en van die ander inwoners met wie Oudtshoorn Courant verlede week gesels het, grootliks toegeskryf word aan die afwesigheid van amptenare wat daarvan seker moet maak dat dienste gelewer word en munisipale bywette nagekom word. Slabbert het sy misnoeë met die situasie uitgespreek terwyl hy state wat sy munisipale tariewe en belastings aandui gewys het. "Ek betaal net soveel as die inwoners van enige ander woonbuurt in die dorp, maar die verskil is dat ek nie die dienste ontvang waarvoor ek betaal nie," het Slabbert gesê.
Inwoners kla onder andere dat gras nie gesny word nie en sypaadjies nie skoongemaak word nie en dat onbeboude erwe vinnig besig is om in vullishope te ontaard waar tuinvullis, bourommel en huishoudelike afval gestort word. Inwoners vrees nou dat die situasie aanleiding kan gee tot groeiende misdaad in die gebied asook gesondheidsgevare.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die Condorstraat-begraafplaas, verlede Vrydag het `n man op die grond gesit. Gebruikte babadoeke en ander vullis het om hom op die grond gelê. Johnny Dunster (60), het vertel dat hy `n maandeliks toelaag van “`n duisend en iets” ontvang. Hy kan wel terugkeer na `n huis, maar verkies om buite te bly, het Dunster vertel. Hy het aan Oudtshoorn Courant vertel dat hy vullissakke daarheen bring wat hy oopskeur en deursoek. Dunster, wat met krukke oor die weg moet kom omdat sy linkerbeen by die knie geamputeer is, was besig om `n skoon langbroek aan te trek. Aan sy regtersokkie was ontlasting wat teen sy been afgeloop het.
Dit blyk dat Dunster maar een van die talle persone is wat hul nagte in die gebied deurbring.
Steven Woods was ook weer op die toneel. (Oudtshoorn Courant het reeds op 10 Januarie berig oor Woods wat in die Condorstraat-begraafplaas woon). Woods het erken dat hy die vorige week deur munisipale wetstoepassers met R500 beboet is vir rommel strooi. Slabbert het die munisipaliteit geskakel na hy gesien het hoe Woods vullis uit `n tuin waar hy gewerk het, op `n straathoek stort. Woods het het dit egter Vrydag duidelik gestel dat hy hom nie aan die boete steur nie en ook nie van plan is om dit te betaal nie.
Dit, vertel inwoners van die gebied, is `n algemene probleem: wette word nie afgedwing nie wat gans te veel skuiwergate laat. Volgens Slabbert word bouregulasies in die gebied ook nie ewehandig toegepas nie omdat daar slegs gefokus word op diegene wat bereid is en in staat is om te betaal terwyl onwettige strukture by verskeie ander wonings ongestoord aangebring word.
Volgens Slabbert en ander inwoners het hulle die plaaslike munisipaliteit reeds etlike kere vantevore gekontak maar gesprekke met amptenare het tot dusver op niks uitgeloop nie.
• Na aanleiding van `n navraag aan die plaaslike munisipaliteit, het die munsipale woordvoerder, Ntobeko Manqwenqwe, gesê dat die munisipaliteit bewus is van `n behoefte aan opriumingswerk in verskeie gebiede van dir dorp. Daar is reeds begin met opruimingswerk in ander begraafplase maar werk is gestaak met aanvang van die KKNK waar dienste gelewer moet word. Die Condorstraat begraafplaas is deel van die opriumingsplan en werk sal eersdaags daar begin.
Die 60-jarige Johnny Dunster, verlede week by die Condorstraat begraafplaas, vertel dat hy verkies om buite te woon terwyl `n huis vir hom beskikbaar is. Foto's: Jacques Swart
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'