Edward Zaayman (23) en sy pa Daniël (46) het Dinsdag alleen en saam in Hof A en Hof B verskyn. Edward is in aanhouding op 'n klagte van bedrog wat voortspruit uit die koop en verkoop van 'n motor terwyl Daniël in aanhouding is op 'n klag van bedrog nadat hy homself as 'n prokureur voorgedoen het. Hierdie week is nog drie klagtes van bedrog by Edward se vorige een gevoeg wat verband hou met die koop en verkoop van nog twee voertuie en ook die installering van 'n geiser in 'n huis.
Daniël se lysie het ook langer geword met nog 'n klag wat verband hou met die aankoop van mediesetoerusting in Bellville.
Pa en seun het Dinsdagoggend in Hof B verskyn waar Edward aangedui het dat hy om regshulp wil aansoek doen. Hy het toe gevra dat landdros Johan Steynberg, borgtog moet oorweeg nadat borgtog verlede maand geweier is. Hy het aangevoer dat sy vrou nog 'n beskuldigde behoort te wees en dat sy inligting het wat in sy guns sal tel vir 'n borgaansoek. Hy het ook beweer dat die ondersoekbeampte vir hom gesê het dat sy vrou aangekla gaan word en dat daar nie genoeg getuienis teen hom is nie.
Die staatsaanklaer het sy storie verwerp en gesê sy dra geen kennis van die beweringe nie en landdros Steynberg het dit duidelik gestel dat hy nie borg sal oorweeg nie. Nadat Edward in 'n lang gesprek met sy regshulpprokureur betrokke ge-raak het, het Steynberg gelas dat hy eers moet afstaan omdat die hof 'n hele klomp sake het.
Met Edward se terugkeer het hy aan sy prokureur gesê dat hy nie gelukkig is om voor Steynberg te verskyn nie en gevra dat sy saak na 'n ander hof oorgeplaas word. Steynberg het geweier en gesê Edward hoop seker dat 'n ander hof borgtog sal toestaan. Hy het daarna gevra of Edward 'n probleem het as die drie nuwe sake deur hom aangehoor word. Hy het beslis dat Edward in aanhouding bly tot 16 Januarie.
Intussen het Daniel Zaayman in hof A verskyn op sy klagtes en die saak is tot gister uitgestel vir 'n borgaansoek. Volgens die ondersoekbeampte verskyn pa en seun op sommige klagtes saam in die hof omdat beide as medebeskuldigdes by die ander se sake gevoeg word.
Tydens sy borgaansoek gister het Daniël erken dat hy in diens van korrektiewe dienste was, maar ontslaan is nadat hy aan diefstal skuldig bevind is. Hy het ook onder andere gesê dat hy die oggend van sy arrestasie so moedeloos was dat hy miergif gedrink het. Hy het blykbaar by die selle aangevoer dat hy miergif in 'n koeldrankbotteltjie saam met hom op die bus geneem het en dit gedrink het toe hy besef hy gaan op Oudtshoorn gearresteer word. Tydens sy arrestasie was hy op 'n bus onderweg vanaf Welkom na Mosselbaai. In 'n vreemde wending het hy gisteroggend ook in die hof getuig dat hy geen kinders het nie. Volgens al die bronne waarmee die Oudtshoorn Courant gepraat het, is Edward sy seun en het hy ook 'n dogter wat in Mosselbaai woon. Die hof het borgtog geweier en beslis dat Daniël Zaayman ook, soos sy seun, in aanhouding bly to 16 Januarie 2014.

Daniël Zaayman
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'