Omliggende sakemanne moes hulpeloos toekyk terwyl stropers Donderdag en Vrydag die gebou plunder en materiaal wegdra na skrootwerwe toe.
Hennie Davel, eienaar van Y-Not eiendomme het foto's van die stropery aan die eienaars se prokureur in Kaapstad gestuur en 'n klag by die polisie gaan lê nadat hy geen reaksie van die eienaars ontvang het nie. Alhoewel polisielede op die toneel gesê het dat hulle nie kan optree as die eienaar nie 'n saak maak nie stem ander SAPD-lede nie saam nie.
"As ek sien iemand verwyder iets wat nie aan hom behoort nie kan ek hom arresteer," het 'n lid hierdie week gesê. Sakelui in die omgewing is ongelukkig oor die polisie se oënskynlike onvermoë om vroegtydig in te gryp. "Watter boodskap dra dit aan die stropers oor? Dat hulle enige gebou wat leegstaan maar net eenvoudig kan gaan afbreek? Watter negatiewe impak gaan dit nie op ons eiendomme he nie?" het Davel Donderdag gesê.
Terwyl die Oudtshoorn Courant Vrydag op die toneel was het verskeie wetstoepassers en polisievoertuie by die perseel stilgehou en weer gery terwyl stropers rustig voortgegaan het om dakplate, heinings, hekke, pale en bakstene af te breek en te verwyder.
Twee van die stropers het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle toestemming het om die plek af te breek. ‘n Ander een wat besig was om bakstene los te breek het egter gesê hulle vat wat hulle wil hê want dit behoort aan niemand nie. “Ons is die rooimiere, ons vat alles wat ons kan vat.” Kort daarna het polisielede in twee voertuie daarin geslaag om die stropers te verwilder, maar vroeg Saterdagoggend het die strooptog voortgegaan.
Teen Maandag was slegs die staalgeraamte van die gebou en enkele baksteenmure nog staande.
Volgens 'n bron was die skrootwerfeienaar aan wie die materiaal verkoop is bewus daarvan dat dit van die gebou afkomstig is en onwettig afgehaal is.
Dit blyk, volgens polisiewoordvoerder kapt. Louis Visser dat slegs een persoon op die toneel vir diefstal en opsetlike saakbeskadiging gearresteer is.
Teen Maandag was slegs die skelet van die gebou nog staande en stropers was besig om die tenk in die agtergrond uitmekaar te haal.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'