Die afgelope naweek het die Oudtshoorn Meubelvervoer-span `n algeheel derde plek behaal aan die nasionale kompetisie waaraan vyf streke deelgeneem het. Die span het ook eerste twee plekke ingepalm vir Best Loader en Best Supervisor.
Merkwaardige prestasies as mens in ag neem dat hierdie hul eerste deelname aan die kompetisie is.
Op 14 Junie het die span in George aan die streekkompetisie met die louere weggestap. Daarmee het hulle ook tot die nasionale kompetisie deurgedring waar hulle verlede naweek met spanne van Gauteng, KwaZulu-Natal, Wes-Kaap en Vrystaat in Johannesburg meegeding het. Die plaaslike span het die Oos-Kaap verteenwoordig.
Die manne was maar ietwat gespanne – asof die vooruitsig van `n strawwe kompetisie nie genoeg was nie, was dit ook elkeen se eerste vliegervaring.
Na afloop van die kompetisie het die Oudtshoorn Meubelvervoer-span lof ontvang van Gareth Foster, takbestuurder van Stuttaford Van Lines, Port Elizabeth asook Martin Oosthuizen, visepresident van die Professional Movers Association (PMA), Suid-Afrika.
Dit was veral hul spanwerk wat indruk gemaak het.
Aan die einde van die kompetisie moes `n krat waarin meubels verpak is, verseël word. Spanlede het instinktief te werk gegaan. Abraham Moos het gekniel sodat Gabriel Moos op sy skouers kon klim om die houer van bo behoorlik toe te maak.
Volgens Oosthuizen was dit die ideale voorbeeld van spanwerk wat deur die PMA aangemoedig word.
.jpg)
Die wenspan van Colyns Meubelvervoer op Oudtshoorn is, van links, Abraham Moos (Yskas), Isak de Wee, Gabriël Moos en Daniel April. By hulle staan Johan Colyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'