OUDTSHOORN NUUS - Die Oppiespoor-aksiegroep wat in die Suid-Kaap en verskeie ander dele van die Wes-Kaap aanbied om pensioengelde namens mense op te spoor het by monde van hulle regsverteenwoordiger aangekondig dat hulle vanjaar meer as R4 miljoen aan mense uitbetaal het.
Terwyl die groep met vorige berigte nie bereid was om aan te dui hoeveel geld hulle vir mense kon opspoor nie, het Johan Wagener, hulle regsverteenwoordiger, verlede week in 'n brief bevestig dat hy in besit is van 'n lys van begunstigdes.
In die brief vra Wagener dat die wanpersepsie dat Oppiespoor geen geld opspoor nie, reggestel word.
"'n Lys van uitbetalings wat gemaak is vanaf 15 Januarie 2019 tot 5 Maart 2019 is aan my voorgelê en beloop die bedrag van R4 493 902,43. Die grootste enkele bedrag wat uitbetaal is, was R900 000."
Nadat die Oudtshoorn Courant in Maart navrae ontvang het van persone wat geld aan Oppiespoor betaal het, het die koerant gevra dat enige persoon wat geld ontvang het met die koerant sal kontak maak alvorens daar weer berig word.
In April het 'n persoon wat ongeveer R64 000 ontvang het, sy bankstaat aan die koerant getoon. Wagener se brief is verlede week ontvang voordat die maatskappy by wie die persoon gewerk het, kon bevestig dat die geld uitbetaal is op grond van Oppiespoor se tussentrede.
Daar word aanvaar dat daardie uitbetaling deel is van die lys wat deur Oppiespoor aan Wagener gegee is. In Wagener se brief sê hy dat daar ten spyte van diegene wat ongelukkig is, "heelwat mense is wat dankbaar is teenoor Oppiespoor".
Alhoewel sy brief nie dien as voorspraak vir die maatskappy nie, sê Wagener "dit is beslis nie 'n geval van meer vrae as antwoorde nie".
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'