OUDTSHOORN NUUS - Die Oppiespoor Aksiegroep wat daarop roem dat hulle pensioene vir mense kan terugkry is opnuut in die nuus met 'n nuwe string besorgde inwoners wat voel die groep se optrede is nie deursigtig nie.
Die Oudtshoorn Courant het die afgelope drie weke met verskeie mense gepraat van wie Oppiespoor registrasiegeld van R200 vra om "te kyk" of daar iewers pensioengeld verskuldig is.
Die nuutste kommer onder mense van Oudtshoorn, Groot-Brakrivier en George volg nadat die Oppiespoor Aksiegroep verskeie vergaderings in woonbuurte rondom George gehou het met die voorwendsel dat hulle met verskeie "surpluskantore" saamwerk om pensioengeld aan mense te laat uitbetaal.
Die Oudtshoorn Courant het reeds in 2016 oor die groep berig nadat dit aan die lig gekom het dat die inligting wat hulle voorsitter, Gert Mostert, tydens 'n massavergadering op Dinsdag 9 Februarie aan sowat 600 oud-Transnetwerkers verskaf het, glad nie bevestig kon word nie.
Vergaderings in Matzikama
Na die beriggewing het Oppiespoor stil geraak, maar in 2017 het die Beeld, Die Burger en Die Volksblad sowel as die Matzikama-munisipaliteit berig dat die groep in dorpe rondom Vredendal werksaam is.
Drie lede van die publiek sowel as joernaliste het verlede jaar by die Oudtshoorn Courant navraag gedoen oor die werkswyse van Oppiespoor. Volgens Pieter Rautenbach, woordvoerder van die burgemeester van Matzikama, het hulle ingegryp nadat hulle besef het die groep is besig om derduisende rande te ontvang van mense wat reeds in die knyp is en wat hoop dat hulle iewers pensioengeld sal ontvang.
Die munisipaliteit het 'n boodskap op Facebook geplaas waarin mense gewaarsku is om nie geld aan die groep te betaal nie.
Tydens 'n telefoongesprek met die Oudtshoorn Courant het Rautenbach verlede week gesê hulle vermoed dat Oppiespoor tussen R150 000 en R200 000 van inwoners in die onderskeie dorpe rondom Vredendal ontvang het.
Vergaderings in George
Die Oudtshoorn Courant het die kantoor wat Oppiespoor Aksiegroep in die Johan Wagener-gebou in Kerkstraat huur, op Dinsdag 17 April besoek. Die besoek het gevolg nadat 'n persoon van George haar kommer uitgespreek het oor 'n groot vergadering wat in Pacaltsdorp gehou is waar Oppiespoor glo aan mense gesê het hulle kan uitstaande pensioengeld van bykans enige organisasie opspoor.
Tydens die besoek aan die Oppiespoor-kantoor het Gert Mostert verkies om die koerant nie te woord te staan nie. Volgens 'n dame wat in die ontvangsarea was en klaarblyklik 'n werknemer van Oppiespoor is, werk Oppiespoor saam met verskeie "surpluskantore" om pensioengeld vir mense op te spoor.
Volgens haar kry kliënte hulle R200 registrasiegeld terug sodra Oppiespoor bevestig het dat daar nie pensioengeld vir die persoon is nie. Ondanks haar reaksie dat hulle reeds geld aan verskeie mense terugbetaal het en ook verskeie mense se pensioene opgespoor het, was sy nie bereid om enige inligting oor beweerde terugbetalings te verskaf nie.
Sy was ook nie bereid om te sê waar die sogenaamde "surpluskantore" is en watter pensioenfondse hulle verteenwoordig nie.
Die afgelope twee weke het die Oudtshoorn Courant met mense in Oudtshoorn, en George (Blanco, Pacaltsdorp en Hoekwil) gesels en kon nie daarin slaag om een persoon op te spoor wat geld van Oppiespoor ontvang het nie.
Volgens twee van die mense het hulle reeds ses maande gelede R200 betaal en ten spyte van navrae nie terugbetalings ontvang nie.
Weier om te reageer
Die Oudtshoorn Courant het op Woensdag 18 April ses navrae aan Oppiespoor gestuur, maar hulle het die volgende dag gesê hulle gaan nie kommentaar lewer nie en volstaan by wat hulle die vorige dag in die kantoor gesê het.
Op 24 April het die Oudtshoorn Courant weer 'n e-pos aan Oppiespoor gestuur waarop Llewelyn Grootboom geantwoord het. Hy het gesê dat Oppiespoor Aksiegroep (Pty) Ltd deur hom geregistreer is en dat hy geen toestemming verleen vir beriggewing nie.
Al die inligting wat in hierdie berig weergegee word, is Woensdag aan Oppiespoor gestuur met die versoek dat hulle reageer op enige inligting waarmee hulle nie saamstem nie. Teen gister is geen reaksie ontvang nie.
Radiostasie hoor ook klagtes
Die gemeenskapsradiostasie EDENfm is op Vrydag 20 April tydens 'n inbelprogram oorval deur luisteraars wat besorg is oor die werksaamhede van Oppiespoor.
In reaksie van besware van Oppiespoor dat die radiostasie hulle in 'n swak lig stel is hulle deur die radiostasie se bestuurder, Morné Pietersen genooi vir 'n radio-onderhoud.
Volgens Pietersen het hulle aangedui dat verlede week vir hulle ongeleë is en onderneem om op 2 Mei aan 'n radioprogram deel te neem en mense se vrae te beantwoord. Hulle het egter nie die onderneming nagekom nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'