OUDTSHOORN NUUS - Die skrywer en musikant, Derek Hendriks van Prins Albert, doen gereeld introspeksie – bedags, wanneer hy die lewe ervaar; snags, wanneer hy dikwels wakker lê. Dis dié perspektiewe wat hy verwoord het in sy debuutbundel met gedigte en essays, oppe en affe, wat pas verskyn het.
"Ek dink die hele tyd, ek soek antwoorde, ek luister wat die lewe vir my sê," vertel hy. In sy lewe was hy al dikwels kwaad oor onreg.
"Dan staan ek snags op en vat my pen en ’n skryfboek. Ek praat dikwels met die Vader, stry en baklei met Hom. As dit lyk of niks regkom nie, gee ’n mens mos maklik vir God die skuld."
Só ken hy die pyn, skryf Derek, van werkloosheid, ’n gebroke huis, honger, armoede, moedeloosheid en depressie, verwerping deur mense wat hy vertrou het, van klere wat oor en oor gedra word. In sy boek vra hy: "Is seerkry dan ’n móét?"
Hy kén slapelose nagte, sê hy, "maar deesdae, soggens, sien ek altyd die lig. Dis dan dat ek weet my lewe is uitgesorteer. Daar is nie net ‘affe’ in my lewe nie – dis ook vol ‘oppe’."
Daardie positiewe dinge is sy woonplek, digby die Swartberg, wat vir hom ’n inspirasie is. Sy orkes, Slam Jam, geniet toenemend erkenning. Hy het ’n ATKV-liriekkursus voltooi, waar hy aangewys is as een van die toptien van sy groep. Hy het reeds op literatuurfeeste, soos die Prins Albert-eesfees en die Montagu-boekefees pryse behaal vir sy skryfwerk.
Van sy gedigte is al aanvaar in die nasionale Avbob-poësiekompetisie. Tans is hy besig met die vervaardiging van sy debuut-CD, Liefling, en ’n musiekvideo. Daarby werk hy aan ’n draaiboek vir ’n Afrikaanse fliek, Ou Loekie. "Dis die verhaal van my ouma se grootmaakkind wat die pad byster geraak het. In elkeen is daar iets goeds – dís wat ek met dié storie sê."
Volgens Derek is poësie en musiek ’n onlosmaaklike deel van sy lewe, "want albei het te doen met ritme. Dis wat Afrikaans my bied. Die ritme van my taal gee my die geleentheid om my emosies uit te druk."
Sy groot poësie-inspirasie is veral die digters AG Visser en Sheila Cussons, en op musiekgebied die sangers Garth Taylor en Anna Davel. "Anna is bereid om my as kunstenaar verder op die pad te vat."
Hy dink gereeld terug aan die jare van die uiterste frustrasie toe hy vir die departement korrektiewe dienste gewerk het. "Dit het my verveel en rigtingloos laat voel. My vrou, Mariana, was my inspirasie vyf jaar gelede om uit dié lewe weg te breek en my passie te volg. Dit was nie maklik nie."
Sy volgende digbundel, Die gebroke diepte, neem reeds vorm aan. "Die tema is dat daar onder elke oppervlak gebrokenheid skuil, en dat dié seerkry op die een van ander manier gevul moet word."
Vir meer inligting oor die boek, kontak Derek Hendriks by hendriks725@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'