OUDTSHOORN NUUS - 'n 18-jarige jong man het Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn nadat hy Sondagoggend vir die moord op Franklin (Franky) Lukas (18) in hegtenis geneem is.
Niven Donley se saak is na môre (Vrydag) vir 'n borgtogaansoek uitgestel.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die voorval Saterdagaand in Rosehillstraat, Rosebank gebeur.
Visser sê daar was 'n bakleiery Saterdagaand waartydens Lukas met 'n mes in sy bors gesteek is. Donley is Sondagoggend by sy huis in hegtenis geneem.
Lukas se ma, Dinah Lukas, het Maandag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die dood van haar seun nog onwerklik is.
"Hy was 'n goeie kind met baie mooi maniere. Hy het gehou van mooi aantrek en het altyd vir ander mense omgegee. Hy sou die week teruggaan skool toe om sy gr. 11 jaar by Bridgton Sekondêr voort te sit. My kind wou iets van sy lewe maak en dit is op 'n wrede manier van hom af weggeneem."
Sy hoop dat geregtigheid vir haar seun sal geskied.
"'n Diamant is van ons weggeneem en diegene wat vir sy dood verantwoordelik is moet gestraf word vir wat hulle gedoen het."
Vriende van Lukas wat Saterdagaand saam met hom gekuier het is steeds geskok oor wat gebeur het.
"Ons het in Rosebank by mense gekuier. Niven en sy vriende het ook daar aangekom, maar hulle is gevra om te loop. Hy het toe vir Franky gesê hy moet onthou die pad huis toe is nog lank. Ons het glad nie verstaan wat sy probleem is nie, want Franky het nie eens met hom gepraat nie."
Volgens 'n vriendin wat by die partytjie was, was daar later 'n bakleiery buite en het Lukas en nog 'n vriend op 'n manier by die geveg betrokke geraak.
"Ons is nie heeltemal seker waaroor hulle baklei het en hoe Franky betrokke geraak het nie, maar toe ons weer sien toe is daar ses seuns wat aan Franky skop en slaan. Dit is toe dat hulle hom met die mes steek."
Sy ma is kort daarna by haar huis gaan haal, maar toe sy by die toneel opdaag was haar seun reeds oorlede.
Lukas word Saterdag vanuit sy ouerhuis in Klooflaan begrawe waarna daar 'n ter aarde bestelling by die Oudtshoorn-begraafplaas sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'