OUDTSHOORN NUUS - Die onafhanklike polisie-ondersoek- direktoraat (OPOD) is tans besig met die ondersoek na die 27-jarige Ashrodeen "Essie" Armstrong Dinsdag, 2 Januarie, uit 'n polisievangwa geval en gesterf het.
Volgens Phaladi Shuping, OPOD se woordvoerder, het die voorval om 00:04 gebeur.
"'n Konstabel en 'n sersant het 'n klag van gesinsgeweld in Eerstelaan, Oudtshoorn, ondersoek na hulle 'n oproep ontvang het. Die vrou het na bewering haar 33-jarige kêrel aangerand. Die 27-jarige vrou is in hegtenis geneem en agter in die polisievangwa gelaai."
Volgens Shuping word daar verder beweer dat die kêrel die agterkant van die vangwa oopgemaak het terwyl die vangwa gery het. Die polisiebeamptes was nie bewus daarvan dat die agterste deur van die vangwa oopgemaak was nie.
"Die beamptes het dit eers agter gekom toe hulle by die stasie arriveer. Hulle het terug gegaan na die toneel waar hulle haar gearresteer het. Hulle het haar gekry waar sy op haar rug gelê het en ernstig beseer is. Paramedici is gekontak, waarna sy na die hospitaal geneem is. Sy is ongeveer 08:00 oorlede."
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, is 'n dossier van strafbare manslag oopgemaak.
Haar familie is tans getraumatiseer en het baie vrae oor die insident.
Donovan en Maureen Armstrong. Foto: Stefan Goosen
Volgens haar familie was sy vroeër die dag by die Kango-bergoord saam met haar kêrel waarna sy terug huis toe is. Haar familie is nie seker hoekom sy en haar kêrel altwee in hegtenis geneem is nie.
Hulle weet ook nie hoe dit gebeur het dat sy uit die vangwa geval het nie. Armstrong is, volgens haar familie in die hospitaal oorlede, ure nadat sy uit die vangwa geval het.
Donovan Armstrong, die oorledene se pa, het gesê dat sy dogter die lewe in die huis was. "Sy was die sonskyn in die huis. Sy was ons blom."
Deur sy trane het hy vertel hoe spesiaal sy dogter was. "Ons weet self nie hoekom sy in hegtenis geneem is nie. Soos wat ek die prentjie kry was hulle klaar by die huis en iets het gebeur dat die polisie ontbied is," het hy vertel.
Volgens hom is die wonde steeds rou en was hy baie erg oor sy dogter.
"Sy was my enigste meisiekind. Sy was 'n baie opregte mens. Sy het dinge reguit gesê vir mense. Sy was 'n opgewekte mens. Dit is hoekom mense van haar gehou het. Sy het 'n baie goeie sin vir humor gehad. Sy was my kind, nooit onbeskof nie, en wou almal help."
Armstrong vertel met heimwee hoe sy dogter die dag voor sy oorlede is vir al haar bure sonneblomme gegee het. Sy was baie erg oor haar pa en haar twee broers.
"'n Kind bly maar net 'n kind vir 'n ouer."
Daar was Woensdag, 10 Januarie, 'n kranslegging vir haar gehou. Sy word Saterdag begrawe.
Lees die vorige berigte hier:
Vrou oorlede nadat sy uit vangwa val
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’