OUDTSHOORN NUUS - 'n 29-jarige man, wat sonder toestemming ‘n man se motor vir ‘n plesierrit geneem het, is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof ’n opgekorte vonnis van vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Luyanda Ntlanganiso het tereggestaan op aanklag van voertuigdiefstal na hy op 24 Desember verlede jaar die Volkswagen sedan van Lunga Motshana in Daliahweg, Bridgton, geneem en daarmee weggery het.
Die klaer het glo vinnig uit die voertuig geklim, sonder om dit af te skakel, toe die beskuldigde ingeklim en dit vir 'n plesierrit geneem het.
Met sy terugkeer het hy beheer daaroor verloor en 'n heining platgery. Skade aan die voertuig het R3 300 beloop.
Ntlanganiso se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof meegedeel dat die beskuldigde bereid was om vir die skade aan die voertuig te betaal, maar dit nie kon doen nie omdat hy in aanhouding was.
Hy het die hof vir ‘n boete en opgeskorte vonnis gevra.
Die staatsaanklaer Brandon Smith, het ook vir ‘n swaar boete en opgeskorte vonnis gevra omdat Ntlanganiso aan ‘n ernstige misdryf skuldig bevind is. Die klaer het groot skade gely.
Streeklanddros Sylvia Mandla het in ag geneem dat die beskuldigde 'n eerste oortreder is en reeds byna ses maande in aanhouding was.
Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'