CALITZDORP NUUS - 'n Man, wat 'n vriend met 'n hokkiestok doodgeslaan en aan strafbare manslag skuldig bevind is, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof 'n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Jesreal Rabie (28) is aangekla van moord, maar het op aanklag van strafbare manslag skuldig gepleit.
Hy het in sy pleitverduideliking gesê hy het nie bedoel om Jan Werwerts, dood te maak nie, maar net homself verdedig het. Hulle het die betrokke dag saam met vriende rugby gaan kyk en saam gedrink.
Na afloop van die rugby is hulle na Rabie se huis op die plaas St Helena waar hulle verder gekuier het. Die beskuldigde wou gaan slaap en het almal gevra om huis toe te gaan waaroor die oorledene nie gelukkig was nie. Hy is wel daar weg, maar het later teruggekeer met 'n wapen soos 'n panga of 'n byl. Volgens Rabie wou die oorledene hom glo met die wapen slaan en hy het 'n hokkiestok in die huis gaan haal om homself te verdedig. Hy het erken dat dit nie nodig was om Werwerts 'n tweede hou met die hokkiestok te slaan terwyl hy reeds op die grond gelê en sy lewe toe nie in gevaar was nie.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê Rabie het die perke van noodweer oorskry en dat 'n lewe geneem is.
"Die Grondwet waarborg die reg op lewe van elke mens en die misdryf moenie afgewater word dat die beskuldigde nie vandag voor die hof sou staan as dit nie was vir die optrede van die oorledene nie. Die beskuldigde se lewe sal weer na die uitdiening van sy vonnis kan voortgaan terwyl die ouers van die oorledene hom nie weer sal terugkry nie."
Die landdros het sy kommer uitgespreek oor die talle moorde die afgelope tyd in Calitzdorp en Ladismith. Hy het in ag geneem dat Rabie skuldig gepleit en die familie van die oorledene hom vergewe het.
Rabie is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, en drie jaar korrektiewe toesig wat onder andere 24 uur per dag onder huisarres behels behalwe vir werk- en kerkdoeleindes. Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.