OUDTSHOORN NUUS - Ontstoke inwoners van wyk 5 in Bridgton het verlede Donderdag bande in 17de Laan aan die brand gesteek omdat hulle glo nie gekies is vir EPWP-werkprojekte wat volgens hulle in Juliemaand sal begin nie.
Altesaam 400 inwoners van verskillende wyke het die vorige dag by die Thusong-sentrum byeengekom om te registreer om sodoende in aanmerking te kom vir die beperkte aantal werksgeleenthede (60) wat in hierdie tydperk beskikbaar sal wees.
Die 400 hoopvolle werknemers wat dié dag teenwoordig was, se name is in 'n houer gegooi en slegs 60 gelukkige name is getrek.
Volgens een van die ontevrede inwoners, Donnelee Donson, het niemand in wyk 5 werk gekry nie.
Sy sê alhoewel hulle vooraf van die trekstelsel ingelig is, stem hulle steeds nie in beginsel daarmee saam dat hul lot uitsluitlik afhang van blote geluk nie. "Hoe kan daar met ons gesinne se brood gedobbel word?" wou sy weet.
Volgens haar is geen inwoners van 17de, 16de en 15de Laan se name uit die houer getrek nie.
Om 14:00 dié middag het die ontevrede inwoners hul protesaksie by die sirkel in Smartietown voortgesit.
Teen 17:30 kon die openbare orde polisie-eenheid (Pops) daarin slaag om die situasie tydelik met rubberkoeëls te ontlont, terwyl die brandweer die brandende bande geblus het.
Gemoedere het egter weer opgevlam en teen 22:00 die aand was die inwoners en polisie steeds in skertmutselings betrokke. Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant ontvang het het die situasie eers teen 23:30 ten volle bedaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'