OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n onderwyser (48) van Oudtshoorn wat teregstaan op twee seksuele klagtes het in die Oudtshoorn-landdroshof begin met die getuienis van die klaagster wat in 2017 'n leerder aan die betrokke skool was.
Eugene Hufke word daarvan aangekla dat hy tussen Julie en September 2017 'n 18-jarige leerder seksueel probeer skend het en op 11 September 2017 wel seksueel geskend het. Hy pleit onskuldig op albei klagtes.
Hufke se regsverteenwoordiger, adv. Stephen Lourens, het in sy kruisondervraging dit aan die klaagster gestel dat sy 'n storie teen die beskuldigde opmaak en dat niks tussen hulle gebeur het nie. Volgens hom maak haar antwoorde op sy vrae nie sin nie.
Die klaagster het hierop geantwoord dat sy nooit leuens vertel nie. Volgens haar is die beskuldigde 'n vriendelike persoon en het sy aanvanklik gedink dat hy 'n grap maak. Sy het egter later ongemaklik begin voel. Hy het glo aan haar gesê dat hy nie grappe maak nie en dat hy gaan bewys dat hy ernstig is.
Landdros Theolin November het die saak tot 22 Mei uitgestel en Hufke se borg van R1 000 verleng.
Hy is gewaarsku om nie met staatsgetuies kontak te maak nie. Thuba Nyamate is die aanklaer. Die skoolhoof van die betrokke skool het bevestig dat Hufke uit sy pos bedank het kort nadat die klagte aan die lig gekom het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'