OUDTSHOORN NUUS - "Dit het gevoel soos 'n grusame fliek wat voor my afspeel." So het Adele de Vos, onderwyser by Bridgton Sekondêr, aan die Oudtshoorn Courant vertel oor 'n kapingspoging deur vier mans wat sy en haar vriend verlede Vrydag in Kaapstad beleef het.
Volgens De Vos het sy Vrydagmiddag uit Oudtshoorn vertrek om 'n musiekkonsert in Groenpunt by te woon.
Haar kêrel, Elroy Hartnick, wat in Citrusdal woon, het haar in die Paarl ontmoet waar hy sy motor by vriende gelos het. Hulle het met De Vos se motor verder gery om 'n vriendin se dogter by die Louis Leipoldt Mediclinic in Bellville te besoek.
De Vos vertel dat hulle rustig teen ongeveer 90 km/h gery en gesels het toe 'n man op die N1 in die area van Bloekomsbos-plakkerskamp, oor die pad geloop het. Volgens haar het Hartnick geswenk om 'n botsing met die man te vermy, maar die het weer voor die motor inbeweeg.
Sy sê omdat hulle redelik stadig gery het kon hulle betyds spoed verminder om te voorkom dat die man ernstige beserings opdoen. Die man het egter doelbewus op die enjinkap gespring en die windskerm getref.
"Ek het in my lewe nog nooit so groot geskrik nie. Die windskerm was erg beskadig en glasstukke het op die paneelbord geval."
"Ons wou uitklim om die man te help, maar het onmiddellik na die voorval agtergekom dat iemand aan die agterste twee deure peuter om toegang tot die motor te kry. Die man wat op die windskerm geval het, was ook nêrens te sien nie."
Volgens De Vos het 'n man met 'n skerp voorwerp probeer om Hartnick se ruit te breek, maar kon nie daarin slaag nie. "Dit was op daardie oomblik wat ons besef het dat hierdie 'n beplande kaping is."
Die beskadigde windskerm van De Vos se motor. Foto verskaf
Net voor die paartjie met hul motor weggejaag het, het 'n taxi ook by die toneel gestop waarna die mans rustig weggestap het.
"Wat vir my vreemd was is dat die mans nie eers weggehardloop het nie," sê De Vos. Sy sê dat hulle dadelik 'n botsingsverslag vir versekeringsdoeleindes by Brackenfell-polisiestasie voltooi het, maar was ongelukkig omdat die beamptes aan diens nie ook 'n poging tot kaping-dossier wou open nie.
"Ek is net bly dat die mans nie vuurwapens gehad het nie, anders kon ons dalk dood gewees het."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'