OUDTSHOORN NUUS - Onbaatsugtige werk word daagliks by die Oudtshoorn-diereherberg (ODH) op die Rooiheuwelpad buite die dorp gedoen.
Met besoek aan ODH was dit opmerklik hoe die 52 honde wat vir aanneming beskikbaar is, versorg word. In gesprek met Oudtshoorn Courant verduidelik Ansa de Jager dat al die honde in hokke met genoeg ruimte, rusbanke, beddens, komberse, speelgoed, asook kos en water versorg word.
"Omdat ons as 'n nie-winsgewende organisasie (NWO) funksioneer is ons heeltemal afhanklik van donasies, asook om uit ons eie sakke voorsiening te maak aan behoeftes."
Tans word daar nog hokke aangebou, asook kantore vir die perseel wat aan ODH geskenk is. Ons gebruik 250 kg hondekos per week om al die honde te voer en is skenkings van hondekos en komberse vir die winter nou prioriteit."
Die organisasie se veeartskoste is enorm aangesien alle honde gesteriliseer en ingeënt word, asook enige noodgevalle wat aandag moet kry.
"Ons laat persone toe om teen 'n vasgestelde bedrag 'n hond te borg wat beteken die persoon besoek die hond, en kan selfs die hond uitneem vir die dag. Ons nooi ook boere uit om 'n skenking te maak, waarop ons weer hul plaas se naam op 'n hok sit waar verbygaande verkeer dit kan sien. Die geborgde bedrag help met die hond in daardie hok se versorging en terselfdertyd kry die plaas deurlopende advertensie. Die eienaar van Arbeidsvreugde is die eerste boer wie se plaas se naam op 'n hok pryk."
De Jager wil juis meer hokke aanbou sodat sy meer honde uit die munisipale-skut kan verwyder om te verhoed dat hul uitgesit word. Sy nooi die gemeenskap om betrokke te raak by hul borgskappe, asook om donasies aan ODH te skenk.
Die honde wat tans beskikbaar is vir aanneming kan gesien word by ODH of kontak Ansa de Jager by 072 070 5977.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’