GEORGE NUUS - 'n Groot eer het dr. Okkie Stander, bekende historikus van George, te beurt geval. Hy lewer vanaand, 14 Augustus, die tweede Moerdijk-gedenklesing vir 2025 in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument in Pretoria.
Die 74-jarige Stander is deur dr. Danie Langner, hoof van die Erfenisstigting, genooi om die lesing te lewer.
Stander gaan praat oor die Afrikanerbywoners in die Klein-Karoo tussen 1863-1937. Soms word daarna as deel van die Afrikaner se weggesteekte geskiedenis, verwys.
Stander vertrek vanoggend (14 Augustus) na Gauteng. Voor sy vertrek het hy aan George Herald gesê hy beskou dit as 'n groot eer.
By dit alles is dit sy eerste besoek aan die Voortrekkermonument.
Sy belangstelling in geskiedenis kom al van kindsdae af. Oor die jare het sy belangstelling gegroei en hy het selfs verder in die rigting studeer.
Hy het sy doktersgraad behaal in geskiedenis met die onderwerp, Die voorkoms van armoede in Oudtshoorn tussen 1914 en 1937.
Stander het in 'n stadium in Oudtshoorn gewoon en hy het 'n besondere belangstelling in die dorp en sy geskiedenis. "As mense van die dorp hoor dink hulle volstruise, volstruispaleise en voorspoed."
Oor die jare het hy egter bewus geword dat daar in die verlede ook 'n anderkant van Oudtshoorn was soos armoede en spesifiek die rol van bywoners.
"Dr. EG Malherbe, lid van die destydse Carnegie-kommissie, het in 1929 verklaar dat hy groot sosiale diskriminasie in die gemeenskap gesien het. Toe ek dit lees, het dit my aangegryp om dieper navorsing te doen oor hoe die mense dinge beleef en oorleef het."
In sy lesing vanaand val die klem op hoe van die bywoners uitgestyg het uit hul omstandighede.
"'n Mens moet nooit toelaat dat jou agtergrond vir jou 'n struikelblok word nie. Dit moet jou eerder motiveer om deur harde werk die hoogste sport in jou beroep te bereik," het hy gesê.
Stander se navorsing hou nie op nie. Hy is van voorneme om alles nog in 'n boek te vervat. Hy is ook bereid om later die lesing op ander plekke aan te bied soos byvoorbeeld Oudtshoorn.
Belangstellendes kan hom kontak by Okert.stander@absamail.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’