OUDTSHOORN NUUS - Hul stoutste verwagtinge is oortref. So sê die uitvoerende hoof van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF), Johnny Baartman, oor die forum se sewende Erfenis Sport- en Kultuurfees wat Sondag en Maandag op die Bridgton-sportterrein aangebied is.
Die fees het met 'n Gospel Extravaganza begin met 'n groot aantal kore, sanggroepe en musikante, onder andere, Total Praise van Kaapstad, Oneness Worship Team, Geneses Academy, Real Soul, Owen Ryneveldt en Pa-trick Wagenaar, Trudy en Marilese Samson jeuggroep.
Maandag se program het begin met 'n optog teen dwelms en alkoholmisbruik vanaf die Smartie Town-sirkel in Dassieweg wat gelei is deur die Evangelies Lutherse jeugbrigade en motorfietsryers van die Olympians-motorfiets-klub.
Hierna was dit tyd vir dominos-, netbal- en sokkerwedstryde, vertonings deur drilpelitons, die kulkunstenaar, Jannie de Bruin en demonstrasies deur paramedici van Wes-Kaapse forensiese afdeling.
Die gemeenskapsradiostasie EDENfm, het lewendig vanaf die terrein uitgesaai.
In 'n memorandum aan die Oudtshoorn-munisipaliteit sê die forum dat Oudtshoorn gebuk gaan onder sosiale euwels soos toenemende misdaad, dwelmmisbruik, tienerswangerskappe, vroeë skoolverlating, die straatkindprobleem, straatbedelaars en die afbreek van familiestrukture grotendeels as gevolg van die groeiende werkloosheidsyfer en tekort aan entrepreneursgeleenthede en ontwikkelingsinisiatiewe.
Die forum versoek die raad om voortaan strenger op te tree teen diegene wat van hul munisipale wonings smokkelhuise maak en bendelede wat huise vir die doel aankoop.
Die forum vra ook groter ondersteuning vir jeug ontwikkelingsorganisasies en anti-dwelmaksies.
"Ons vra die munisipaliteit om ernstig daaraan aandag te gee om beleggers te lok sodat meer werksgeleenthede geskep kan word om die armoede en werkloosheid probleem op te los," sê Baartman.
Die projekkoördineerder van die forum, Phillip Seroux, het sy dank teenoor al die borge, rolspelers en die gemeenskap uitgespreek vir die wonderlike ondersteuning.
"Die fees is besig om te groei," het hy gesê.
Die forum se volgende aktiwiteit is die jaarlikse toekenningsfunksie op 28 November in die Bridgton-gemeenskapsaal waartydens die Wes-Kaapse minister van sport- en kultuursake, Anroux Marais, as gasspreker sal optree. Kaartjies teen R2 000 per tafel en R150 per persoon is reeds te koop.
Die Oudtshoorn Christelike Jeugvereniging is vroeër die maand aangewys as die Wes-Kaapse organisasie met die beste rekreasie programme en sal die provinsie op 12 November in Johannesburg by die nasionale kompetisie verteenwoordig.
Seroux kan vir meer besonderhede by 079 987 9486 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'