OUDTSHOORN NUUS - Die organisasie, Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), wat op die been gebring is na die moord op die rugbyspeler Boutros Mei van Oudtshoorn in Februarie vanjaar, het Sondag ‘n optog teen misdaad in Bridgton gehou en ‘n memorandum aan die Oudtshoorn-polisie oorhandig.
Die organisasie het in die memorandum sy onderneming gegee om saam met die polisie teen die bekamping van misdaad te werk.
Volgens Leon Campher, Oudtshoorn-raadslid en gemeenskapsleier van Dysselsdorp, is die polisie as gevolg van te min lede, nie in staat om misdaad alleen hok te slaan nie en daarom is samewerking met die polisie van kardinale belang.
Volgens hom OCAC se doelwit om soveel as moontlik straatkomitees op die been te bring in die stryd teen die euwel van misdaad.
Talle gemeenskapslede van die sogenaamde Lane in Bridgton, sowel as ander ondersteuners van die inisiatief van Campher het by dieselfde geleentheid ‘n belofte onderteken om saam met die polisie te werk om misdaad hok te slaan, nie gesteelde goedere te koop nie, nie vermeende misdadigers weg te steek nie, nie die polisie te verhinder om hul werk te doen nie en enige vorm van misdaad onmiddellik aan die polisie te rapporteer.
Onder die groot aantal gemeenskapslede wat Sondag se veldtog bygewoon het was ‘n groep vroue van George wat hul steun aan die inisiatief kom gee het.
Volgens Campher was Sondag die eerste van ‘n reeks bewusmakingsveldtogte van OCAC wat voortaan op ‘n gereelde basis gehou sal word.
Volgens hom is daar sedert Januarie vanjaar reeds sewe moorde in Dysselsdorp en Oudtshoorn gepleeg wat ‘n groot bron van kommer is.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat die inisiatief ondersteun het met spesiale vermelding van die gemeenskapsradiostasie EDENfm.
Vroue van George wat aan die optog deelgeneem het. Foto's: Garnett Wicomb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’