OUDTSHOORN NUUS - Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, tree amptelik op 31 Desember 2021 af.
Hy het in sy loopbaan verskeie titels beklee waaronder kunstenaar, digter, redakteur, uitgewer, onderwyser en dosent.
Hy het veral bekendheid verwerf vir die video's wat hy by ongelukstonele gemaak het.
Visser het ook in sy 10 jaar as redakteur verskeie toekennings van Group Editors, sowel as Caxton ontvang.
Ilse Schoonraad, hoofredakteur van Group Editors, het onlangs by 'n afsluitingsgeleentheid vir Visser as "'n regte mensch" beskryf.
"Ek het hom leer ken as onderwyser en skoolhoof en toe die pos as redakteur by Oudtshoorn Courant oopgaan het, het ek geweet hy is die regte mens vir die werk. Hy is plat op die aarde en het 'n passie vir mense en sy dorp. As redakteur het hy 'n uitstekende werk gedoen en sal hy definitief gemis word. Hy was egter nie net 'n redakteur nie, maar ook 'n vriend wat diep spore in elke persoon saam met wie hy gewerk het se harte getrap het."
My Nota
As een van die mense wat die langste saam met Hannes gewerk het wil ek net die volgende byvoeg:
Toe as ek as grasgroen joernalis in Oudtshoorn begin werk het, was Hannes een van die eerste mense wat ek ontmoet het. Ek het ongelooflik baie van ons beroep by hom geleer, maar soveel meer van die lewe.
Hy het nooit geskroom om te help waar dit nodig is nie. Ek het telkemale beleef waar hy mense probeer help eerder as om 'n storie te skryf. Selfs by ongelukstonele het hy ingestaan om te probeer help en nie net die geleentheid gebruik vir die voorblad nie. Hy het nooit mense geoordeel op grond van waar hulle vandaan kom of waarin hulle glo nie. Hy het mense gemotiveer om die beste weergawe van hulself te wees.
Daar is so baie wat ek oor Hannes kan sê, maar nie alles is gepas vir 'n koerant nie. Om sy skoene vol te staan gaan definitief nie maklik wees nie, maar ek weet die span wat hy agter laat gaan definitief probeer. - (Liezl van Niekerk)
Die Oudtshoorn Courant-span, is van links: Rochelle Murphy (bemarker), Liezl van Niekerk (joernalis), Hannes Visser, Susan White (bemarker), Wyndham Ewerts (sportjoernalis) en Berinece Lewis (ontvangsdame).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'