Kesha Michaels ly aan ’n seldsame oorerflike siekte wat dit vir haar moeilik maak om op te staan wanneer sy gaan sit het. Sy kan ook nie lang ente stap nie.
Volgens dr. Clifford van Wyk is dit die gevolg van verswakte groot spiere in die bobene en beïnvloed dit haar lewenskwaliteit.
Van Wyk het saam met die Klippie Teater en twee leerders, Tamsyn Frans en Arjanah van Wyk, ’n elektriese stoel aan Kesha geskenk.
Tamsyn en Arjanah het gedurende die afgelope 19de Absa KKNK ’n kosstalletjie by die Klippie Teater bedryf terwyl Eurika Mooney die winste van aktiwiteite by die teater bygedra het om die stoel aan te skaf.
Die skoolhoof van Aurial Kollege, Phillip Stalmeester, het namens Kesha sy dank teenoor Van Wyk, Mooney en die twee leerders uitgespreek. Hy het ook dankie gesê aan ’n spesiale vriendin van Kesha, Michelle Lucas, wat haar sedert laerskooldae by die Laerskool Bergsig trappe op en af abba.
Ook haar pa, Claude Agulhas, was baie in sy skik oor die geskenk.
Kesha het ook ’n ouer broer in gr. 12 aan die Bridgton Senior Sekondêre Skool wat aan dieselfde siekte, maar in ’n erger graad ly.
“Hy verkies om meesal te staan en teen ’n muur te leun, ook dikwels wanneer hy eet, omdat hy dit so moeilik vind om weer op te staan,” sê Claude Agulhas, die twee se pa.
“En hy wil graag volgende jaar aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer.”
Volgens Van Wyk sal pogings nou ook aangewend word om vir Kesha se broer ’n soortgelyke ryding in die hande te kry. Die koste van so 'n stoel beloop meer as R12 000.
Mense wat ’n bydrae wil lewer kan Van Wyk bel by 071 107 7168 of 044 272 2506.
By die oorhandiging van 'n elektriese stoel aan Kesha Michaels is van links: Clifford van Wyk, Tamsyn Frans, Arjanah van Wyk, Eurika Mooney, Claude Agulhas, Michelle Lucas, Mary Agulhas en Phillip Stalmeester (prinsipaal van Aurial Kollege). Foto: Garnett Wicomb.