OUDTSHOORN NUUS - Die drie raadslede wat tydens die tussenverkiesing in Desember tot die Oudtshoorn-stadsraad verkies is, is verlede Vrydag, 22 Januarie ingehuldig.
Die nuwe raadslede, Fielies September (DA), Booi Berry (ANC) en Naomi Jonkers (ANC), is deur Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Groter Oudtshoorn verwelkom.
Die tussenverkiesing het gevolg op die bedanking van drie DA-raadslede verlede jaar. Die DA kon met die tussenverkiesing slegs een van die drie setels wat hulle gehad het, terugwen.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, het die nuwe raadslede verwelkom en daaraan herinner om nie die belangrikheid van 'n raadslid te onderskat nie. Hy het hulle ook daarop gewys dat hulle as raadslede die regering op plaaslike vlak verteenwoordig en nie 'n spesifieke party nie.
"Net soos u die gemeenskap lief het, moet u hulle dien. Net soveel as wat u hulle dien, moet u vir hulle sê wanneer hulle ook verkeerd doen. Moenie diegene faal wat vir u sowel as teen u gestem het nie."
Macpherson, het aan die drie nuwe raadslede genoem dat die oomblik toe hulle die eed afgelê het, het hulle beelddraers van die munisipaliteit geword en dat hulle die belange van alle mense in hul onderskeie wyke moet dien.
Vier ander raadslede, Hendrik Botha (DA), Jongilizwe Tyatya (ANC), Barbara Owen (Icosa) Diswayne Maarman (EFF) sowel as die speaker, Julia le Roux (DA) was ook teenwoordig by die inhuldiging.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'