LADISMITH NUUS - Towerkop Primêr in Ladismith se netbalbane spog met 'n splinternuwe voorkoms nadat 'n vennoot-skap tussen die maatskappy Henra en die skool gesluit is.
Die adjunkhoof van die skool, Keith Meyer, het tydens sy verwelkomingstoespraak Vrydag 12 Julie namens die ouergemeenskap, elke leerder en die opvoeders hul dank teenoor die firma uitgespreek.
"A child in sport is a child out of court," het Meyer in sy kort toespraak beklemtoon.
Jannie Swart, skoolhoof, het op sy beurt ook sy dank aan almal betrokke uitgespreek. Hy het ook in sy toespraak genoem dat die onderneming 'n ruim R200 000 in die skool belê het met die opknapping van die twee netbalbane by die skool.
Hy het ook die plaaslike projekbestuurder van Henra, Ismael Siljeur, bedank vir die rol wat hy gespeel het in die verwesenliking van hierdie droom van die skool.
Siljeur het na 'n gesprek met die sportopvoeder by die skool, David Mentoor, die behoefte van die skool aan sy bestuur geopper. Onderhandelinge vir hierdie projek was vir twee jaar aan die gang. Die donateur het nie slegs die oppervlakte van die bane herseël nie, maar ook nuwe sportdrag, sowel as nuwe doelpale aan die skool geskenk. Die doelpale se voetstuk word voor wedstryde met water gevul en na wedstryde leeggemaak om veilig gebêre te word.
Malani Padayachee van die borgmaatskappy, het in haar toespraak aan die leerders genoem dat sy ook van 'n landelike gebied in KwaZulu-Natal afkomstig is, maar sy het doelwitte vir haarself gestel en dit nougeset nagestreef.
Sy het elke leerder van die skool aangemoedig om in hulself te glo en seker te maak hulle bly op koers om hierdie doelwitte te bereik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’