SUID-KAAP NUUS - Agri Wes-Kaap is teleurgesteld dat die kommissie nie sy aanbevelings oor die minimumloon vir plaaswerkers in ag geneem het nie.
Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van die organisasie, het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor die verhoging van 16,1% wat op 1 Maart in werking tree. Dit beteken die minimumloon per uur is nou R21,69. Die minimumloon vir huishulpe is R19,09, 'n styging van 23%.
Agri Wes-Kaap het gevra dat die huidige 10% dispensasie vir nog twee jaar in plek gehou word.
"Hoewel baie permanente plaaswerkers reeds meer as die minimumloon verdien, kan landbou nie
'n verhoging van 16,1% in een produksie-inset bekostig nie. Die styging kom te midde van die nadelige uitwerking wat Covid-19-regulasies op die landbousektor gehad het, veral die impak op die wynwaardeketting met die verkope van alkohol wat reeds drie keer sedert die begin van die inperking verbied is," sê Strydom.
Hy sê volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste kwartaallikse arbeidsmagopname, het die indiensneming in alle bedrywe in die derde kwartaal van 2020 gekrimp, terwyl die landbousektor 72 000 (-8,2%) werks-geleenthede jaar-op-jaar verloor het.
Agri Wes-Kaap ondersteun die regering in hul mandaat om gelykheid te bevorder en armoede te verlig, maar as prysnemers kan produsente, wie se kontantvloei reeds onder enorme druk is, nie 'n verhoging van 16,1% absorbeer nie.
Saptu
Saptu (South African Parastatal and Tertiary Institutions Union) sê hoewel hulle beter lone vir werkers verwelkom, is hulle bekommerd dat werkgewers dit nie sal kan bekostig nie.
Adv. Ben van der Walt, die algemene sekretaris van Saptu sê plase verskil en sommige is onder groot druk.
Hy is bekommerd dat werkers afgelê sal word.
Saptu glo dat die hoë werkloosheidsyfer 'n teken is dat die verhoging van die minimumloon nie die klaaglike situasie sal verbeter nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'