CALITZDORP NUUS - Die Calitzdorp-vetplantfees, wat die afgelope naweek, van 18 tot 20 September, by die Calitzdorp-stasie aangebied is, is een van slegs twee vetplantfeeste van hierdie omvang in die land en het ongeveer 3 000 besoekers gelok.
Volgens Buck Hemenway, lid van die vetplantvereniging in Calitzdorp wat die jaarlikse fees reël, is daar nie nog ’n vetplantfees “op die planeet” wat so ’n groot verskeidenheid plante en aktiwiteite vir vetplantversamelaars en -liefhebbers aanbied nie.
Daar is wel talle plekke waar vetplante verkoop word, maar nie nog ’n fees soortgelyk aan Calitzdorp s’n nie.
Buiten die 16 stalletjies wat net vetplante verkoop het, was daar ook ’n uitstalling met kunswerke van vetplante, uitstappies in die veld om vetplante van die Klein-Karoo in die veld te ervaar, werksessies en gesprekke deur kundiges, asook die jaarlikse vetplantveiling.
Uitstallers kon ook vetplante vir ’n kompetisie inskryf wat deur plantkundiges beoordeel is.
Hemenway sê van die uitstallers het van so ver as KwaZulu-Natal, Pretoria en Stellenbosch gekom. Van die ander was van die Tuinroete en die Klein-Karoo.
Omdat daar tans groot fokus op onwettige handel in vetplante is, en bewaring uiters belangrik is, moet uitstallers oor permitte van Natuurbewaring beskik om vetplante te verhandel.
Geen vetplante mag uit die veld gehaal word om te verkoop nie; slegs plante wat self gekweek word, word toegelaat.
Met die veiling is ’n vetplant, Dioscorea elephantipes, vir meer as R1 500 verkoop en Hemenway noem dat ’n skildery van R44 000 ook met die uitstalling verkoop is.
Volgens Hemenway is die jaarlikse vetplantfees ’n goeie ekonomiese inspuiting vir die dorp aangesien deelnemers en besoekers ook akkommodasie bespreek en restaurante en wynkelders in die dorp ondersteun.
Dit bied ook geleentheid aan mense van die omgewing om kosstalletjies by die fees te bedryf. Om die fees meer toeganklik vir almal te maak, word daar geen toegangsfooi gehef nie.
Die Calitzdorp-veplantfees word jaarliks tydens die derde naweek van September aangebied, en die volgende een word vir 17 tot 19 September 2027 beplan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’