OUDTSHOORN NUUS - Pogings is aan die gang om die Midbrak-bewarea tussen Klein-Brakrivier en Tergniet, te laat herleef en sodoende 'n bydrae te maak tot 'n groter bewaringsprentjie van die uitgebreide Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR) waarbinne Oudtshoorn ook val.
Die Midbrak-bewarea, 'n organisasie sonder winsbejag, het in die negentigs tot stand gekom en sluit Klein-Brakrivier, Riverside, Fraaiuitsig, Reebok en Tergniet in.
"Die druk van menslike ontwikkeling werk dikwels teen die doelwitte van 'n bewarea," sê Sharné Thorpe, sakevrou van Mosselbaai.
"Die gebied word onder druk geplaas deur ontwikkeling van behuising vir mense wat uit die binneland na die Tuinroete verhuis.
"Ons moet nou besluit hoe ons wil hê die gebied in die toekoms moet lyk."
Die Midbrak-bewarea sluit vier verskillende biome in, naamlik fynbos, duinebos, riviermonding en kus-ruigtebos.
"Sover ons weet is dié samestelling van biosfere uniek en daarom belangrik."
Die belangrikste doelwit van die bewarea is om die oorblywende natuur te bewaar:
Bewaring van die unieke kombinasie biosfere en bewusmaking van die noodsaaklikheid daarvan, asook faktore wat dit nadelig kan beïnvloed.
Rehabilitasie van die gebied en veral die verwydering van indringerspesies.
Volhoubare benutting van die gebied tot voordeel van die gemeenskap.
Bewusmaking en benutting deur middel van verskillende aktiwiteite soos fietsry, stap, ensovoorts te bevorder.
Volgens Thorpe is dit belangrik dat inwoners en besoekers kan voel hulle baat by die bewarea omdat hulle die natuur kan benut en geniet, deur geriewe vir aktiwiteite soos fietsry, draf en stap en voëlkyk te skep.
Bewusmaking van die duinbiosfeer en seelewe sal ook aandag geniet.
Die Midbrak-bewarea het kontak gemaak met bewaringsinisiatiewe soos Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR), wat kundige leiding kan gee.
Indien genoeg lede aansluit en belangstelling uit die plaaslike gemeenskap gewerf word, is daar ook 'n moontlikheid dat 'n veldwagter aangestel word.
Volgens Thorpe het belangstelling in die bewarea getaan weens gebrek aan belangstelling, verwarring oor die toepassing van komplekse wetgewing, asook 'n gebrek aan volgehoue leierskap en finansies.
"Mense wat glo hulle baat nie by die bewarea nie, is traag om eienaarskap daarvan te neem."
'n Tussentydse komitee is besig om die bewarea weer aan die gang te kry en nuwe lede te werf.
'n Algemene jaarvergadering word op 18 Desember om 13:00 by die Rheebok-gemeenskapsaal gehou.
Kontak Sharné Thorpe by 071 541 6950 of fyn@fynandbos.co.za of besoek die Facebook-blad by @MIDBRAK CONSERVANCY/BEWAREA.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'