OUDTSHOORN NUUS - Sy weet nie wat om te sê behalwe dankie nie.
So het die 72-jarige ouma Siena Claassen van Mullersbank, Volmoed, Donderdag gesê toe die sleutels van haar opgeknapte huisie deur die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, aan haar oorhandig is.
ie huis wat bouvallig en onveilig was, is ter viering van Mandeladag binne drie dae deur gevangenes van die Oudtshoorn Medium A-gevangenis herstel met finansiële bystand van die Oudtshoorn-munisipaliteit en die ondersteuning van die ACVV, Kindersorg, die departement maatskaplike ontwikkeling, die CP Nel-museum en die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF).
Volgens Veronica Maloy, maatskaplike werker by gemeenskapskorreksies het maatskaplike ontwikkeling en korrektiewe dienste ook meubels en 'n stoof geskenk.
Sylvester het gesê hy wonder wat gedoen kan word indien almal elke dag 67 minute bestee om 'n verskil in iemand se lewe te maak.
Hy het ook 'n beroep op die jongmense van Mullersbank gedoen om na bejaardes soos ouma Siena om te sien.
"'n Vrou se waardigheid is vandag herstel," het hy gesê.
Die Suid-Kaapse areakommissaris van die departement korrektiewe dienste, Ndileka Booi, het in haar toespraak benadruk dat die personeellede van korrektiewe dienste almal mense is wat omgee en baie verdraagsaamheid toon.
"Hulle werk onder moeilike omstandighede," het Booi gesê en hulle gevra om daarmee voort te gaan.
Sy het 'n beroep op munisipale raadslede gedoen om as 'n nuwe projek te kyk na die aanbring van boorgate op Mullersbank omdat sy opmerk dat daar nie lopende water in die omgewing is nie.
Sy het haar dank uitgespreek teenoor die hoof van Oudtshoorn-gevangenis, Phillip Busch, en sy span.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'