OUDTSHOORN NUUS - "Die ouderdomsgroepe kan nou van mekaar geskei word en die kinders kan beter gehalte onderrig ontvang en in hul totaliteit ontwikkel. Dit is 'n onvergeetlike en geskiedkundige dag."
So het die trotse skoolhoof van die Helderliggies-kleuterskool op Rooiheuwel, Dinah Josephs, Sondagoggend gesê met die amptelike inwyding van 'n tweede klaskamer wat deur inwoners van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste opgerig is.
Ten spyte van die gietende reën was die inwyding 'n vreugdevolle en geseënde geleentheid.
"Reën is seëninge en daarom is dit 'n geseënde dag vir die kleuterskool en ouers van Rooiheuwel," het die voorsitter van die Klein Karoo ECD-Forum, Sarie Soman, in haar boodskap oor die opvoeders en ouers se rol in die opvoeding van 'n kind gesê.
Volgens Soman is die eerste 1 000 dae in 'n kind se lewe beslis die belangrikste en daarom is die bywoning van 'n kleuterskool so belangrik.
"Dit is wanneer die grondslag van die kind gelê word en indien nie, het die kind later 'n agterstand. Kinders is geskenke uit die hand van God en dit is die ouers se rol om hulle by die huis dissipline en respek te leer.
Josephs wat reeds 21 jaar betrokke is by vroeëkindontwikkeling het 'n spesiale woord van dank teenoor Phillip Seroux uitgespreek wat sy in Desember tydens sy geskenkuitreikingsprogram ontmoet en gevra het om te help met 'n tweede klaskamer.
Seroux het die hoof van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste, Phillip Bush, gekontak wat onmiddellik ingestem en danksy skenkings van boumateriaal, bydrae van personeellede en die kundigheid van gevangenes die klaskamer opgerig het.
Volgens Bush maak dit deel uit van 'n inisiatief wat die Suid-Kaapse areakommissaris van korrektiewe dienste 'n paar jaar gelede begin het om na skole uit te reik.
Die skoolhoof van Rooiheuwel Primêr, John de Laan, het die ouers gevra om hul kinders soos 'n Ferrari-motor op te pas.
Die Oudtshoorn Korrektiewe Dienste se orkes het die geleentheid met hul musiek en sang opgehelder.
'n Trotse Dinah Josephs in die deur van die nuwe klaskamer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'