OUDTSHOORN NUUS - Die opening van 'n nuwe kantoor van die Wes-Kaapse Stigting vir Gemeenskapswerk (SGW) in Oudtshoorn is om erkenning te gee vir die harde werk en toewyding van die kantoorbestuurder, Landre Januarie, en sy span tuisbesoekers.
Hul word erken vir die uitstaande werk wat hulle doen om vroeëkindontwikkeling in en om Oudtshoorn moontlik te maak vir baie kinders in gebiede wat vanweë armoede nie oor die middele beskik om toegang tot broodnodige dienste te kry nie.
So het dr. Riedewhaan Allie, SGW-direkteur, op Woensdag 20 November tydens die opening van die ruim nuwe kantoor te Hoogstraat 156, Oudtshoorn gesê.
Allie sê in sy verslag dat die Stigting in 2006 die Familie in Fokus-program in Oudtshoorn begin het en in die eerste drie jaar 45 tuisbesoekers opgelei en werksgeleenthede geskep het aan vroue wat gewillig was om opgelei te word.
"Die SGW kan vandag met trots sê dat die Familie in Fokus (FIF)-program werksgeleenthede aan meer as 500 vroue bied wat as tuisbesoekers opgelei is. Met die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders gaan ons tuisbesoekers voort om ‘n belangrike rol te speel om huise veiliger te maak vir jong kinders en die aanspreek van kindermisbruik en nalatigheid."
Volgens Alie streef die stigting ook daarna om seker te maak dat alle kinders in die FIF-program beter voedselsekerheid geniet deur middel van ‘n daaglikse voedingsprogram.
"Die program ondersteun jaarliks ten minste 1 500 versorgers en oor die afgelope agtien jaar het die uitreiking 25 000 versorgers oorskry wat begunstigdes is van die FIF programme. Ons kan met trots sê dat ons tuisbesoekers gehelp het om seker te maak dat ten minste 10 000 kinders in die Groter Oudtshoorn ondersteun is in hul oorskakeling van hul huise na formele skole gr. R en gr. 1."
Spesiale sertifikate van waardering is tydens verlede week se geleentheid aan die tuisbesoekers oorhandig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’