OUDTSHOORN NUUS - Justin Lesch is onlangs as die nuwe direkteur van tegniese dienste by die munisipaliteit aangestel.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, was die pos meer as 'n jaar vakant.
"Lesch was jare die tegniese bestuurder by Prins Albert-munisipaliteit en ook senior bestuurder by Hessequa-munisipaliteit se elektriese- en tegniese dienste-afdeling. Hier het hy ervaring in bestuur, onderhandeling en strategie opgedoen en is dus 'n reusetoevoeging tot die munisipaliteit."
Hy het in beide die privaat sowel as die plaaslike regeringsektor gewerk.
Lesch het gesê dat hy in die onderhoud van infrastruktuur glo.
"Langtermyn beplanning sal daartoe bydra om Oudtshoorn-munisipaliteit se potensiaal te bevorder en ook om hul posisie as 'n volhoubare diensverskaffer te behou."
Burgemeester Chris Macpherson het gesê dat hy beïndruk is met Lesch se assessering van en visie vir sy departement.
"Hy is aan die diep kant ingegooi, maar het reeds bewys dat hy meer as bevoeg is om moeilike situasies te hanteer. Ons sien uit daarna om die res van sy gesin in Oudtshoorn te verwelkom," het Macpherson gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'