OUDTSHOORN NUUS - Die Attaqua K9-honde-eenheid op Oudtshoorn het verlede week 'n nuwe bevelvoerder gekry.
Lt.kol. Rheta Louw, wat aanvanklik by die Mosselbaai honde-eenheid was, het 18 jaar ervaring in die honde-eenheid en is reeds 30 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse polisiediens.
Sy het ook by die Ethology Academy as dieregedragskundige studeer en het 'n passie om met diere en veral met honde te werk.
"Honde-eenhede het tans nie juis 'n goeie naam nie en was onlangs weer in die nuus oor die vrektes van honde. My doel is egter om te bewys nie alle honde-eenhede is dieselfde nie en almal kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie. Ek wil die fokus terugbring na die honde en die werk wat hulle verrig," het sy gesê.
Volgens Louw misgis mense hulle met die groot rol wat honde in 'n ondersoek speel.
"Hoe vinniger 'n hond op 'n toneel kom hoe makliker is dit om vars bewyse of selfs verdagtes op te spoor.
As daar byvoorbeeld na huisbrake gekyk word waar verdagtes weghardloop, help dit geweldig baie as die hond so gou moontlik op die toneel kom om 'n vars spoor te kry en sodoende die verdagte vinniger op te spoor. Die bloed- en semenhonde snuffel die kleinste bietjie bewyse by verkragtingstonele uit.
Hoe vinniger die hond by so 'n toneel aangewend word, hoe groter is die moontlikheid om goeie bewyse te kry wat nie deur mense opgespoor kan word nie."
Louw sê sy is baie opgewonde om haar deel op Oudtshoorn te doen.
"Ons speel net so 'n groot rol in die bekamping en voorkoming van misdaad soos ander eenhede. Ek wil van ons honde-eenheid 'n topeenheid maak waarop die polisiediens nog trotser kan wees. Ek wil hê ons honde en hulle hanteerders moet die beste wees.
Hoe hulle hul werk gaan benader en hoe hulle hul honde gaan hanteer begin egter by my en ek gaan daarna streef om my werk hier as bevelvoerder tot die beste van my vermoë te doen."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'