Update
OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer 20 begrafnisgangers, wat Sondagoggend na 'n begrafnis in Oudtshoorn onderweg was, het 'n noue ontkoming gehad toe die bus waarmee hulle onderweg was aan die brand geslaan het.
Die bestuurder van die bus, Petrus Heskwa, het onraad gemerk net nadat hulle die kruin van die pas bereik het.
Volgens sy dogter Petronice, wat Sondag met Oudtshoorn Courant gesels het, het haar pa rook opgemerk wat uit die enjingedeelte gekom het.
"Ons was in 'n draai en my pa het dadelik toe ons uit die draai uit is stilgehou en gesê ons moet almal dadelik uit die bus." Hulle was skaars almal uit toe is die bus in vlamme.
"My pa het die brandblusser gebruik, maar die vlamme het te groot geraak. Ons het almal op 'n veilige afstand gestaan en kyk hoe die brand die bus oorneem." Daar was 'n hele aantal kinders in die groep wat die begrafnis van Petrus se broer, Isak, in Oudtshoorn sou bywoon.
Met die aankoms van die brandweer op die toneel was die bus in vlamme gehul. Nadat die brand geblus is, het die bus op die afdraande aan die loop gegaan, maar gelukkig net 'n aantal meter gerol voordat dit teen 'n veiligheidsreling tot stilstand gekom het.
Die pad was vir meer as 'n uur gesluit en rye voertuie het aan albei kante van die toneel gewag totdat dit veilig was om verby te gaan. Volgens Petronice het familielede en vriende uit Oudtshoorn en George die gestrande groep met motors gaan haal. "Ons het die een deel van die diens gemis, maar ons kon darem betyds by die graf wees.
"Ons is net baie dankbaar dat niemand seergekry het nie," het sy gesê terwyl hulle Sondagmiddag vir 'n geleentheid terug George toe gewag het. Volgens 'n passasier wat op die toneel was, het Heskwa se werkgewer die bus goedgunstiglik aan hulle geleen om die begrafnis by te woon.
Een van die passasiers stap weg van die brandende bus. Foto verskaf
Die bus het teen 'n veiligheidsreling tot stilstand gekom nadat dit self aan die loop gegaan het. Foto: Hannes Visser
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'