So het die projekbeampte van die Departement Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, me. Thembisa Maxegwana, gesê toe die Noord-Einde Grondeisekomitee 'n lys met die name van 274 eisers aan haar oorhandig het.
Maxegwana het gesê dit het onder haar aandag gekom dat talle oudinwoners van die woongebied om verskeie redes nog nie hul eise ingedien het nie. Hieronder is mense wat nie bewus was van die departement se besoeke nie.
Volgens Maxegwana sal amptenare van die departement vroeg in Februarie weer Oudtshoorn besoek en sal sy hierdie keer die datums vroegtydig bekendmaak.
Volgens haar is prosessering van die eise van die ou Klippies Eiland, Wesbank en Suikerbult reeds ver gevorder en behoort uitbetaling eersdaags te geskied.
Onsekerheid heers oor presies waar die suidelike grenslyn van Noord-Einde eintlik is maar die oorwoë mening is dat dit noord van Victoriastraat is met Adderleystraat en Condorstraat onderskeidelik die westelike- en oostelike grense.
Die voorsitter van die komitee, mnr. James Swigelaar, 'n oudburgemeester van Oudtshoorn, het tydens die oorhandiging gesê daar is geen toekoms sonder vergifnis nie.
"Ons moes destyds ons wonings, skool en kerk in ons geliefde Noord-Einde as gevolg van die groepsgebiede verlaat.
"As slagoffers van apartheid haat ons egter nie ons wit broers en susters nie. Ons sal vergewe, maar nooit die bitter pyn en lyding wat die ge-dwonge verskuiwing veroorsaak, het vergeet nie."
Die destydse Oudtshoorn-stadsraad het in 1988 in 'n verklaring gesê dat Oudtshoorn onder geen omstandighede sal toelaat dat daar aan die groepsgebiedgrense tussen blanke woongebiede en dié van ander rassegroepe getorring sal word nie. Oudtshoorn was die eerste wat die Groepsgebiedewet toegepas het.
Volgens Swigelaar moet 'n eenheidsgevoel in die Groter Oudtshoorn ontwikkel waarin ras, kleur, geloof en politieke affiliasie geen rol speel nie. "Ons sal almal hande moet vat."
Die direkteur van gemeenskapsdienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit, mnr. Ronnie Lottering, het die hoop uitgespreek vir die spoe-dige afhandeling van al die grondeise aangesien dit volgens sy mening reeds te lank neem.
Hy het die munisipaliteit se samewerking verseker.
Tydens die oorhandiging van die lys van eisers van Noord-Einde is, van links: mnre. Klaas Pypers, Solly Dyssel, James Swigelaar (voorsitter), me. Thembisa Maxegwana en me. Yolande van Rooyen (Department Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming), me. Pearly Afrika, mnr. Johnny Claassen en mnr. Ronnie Lottering (direkteur: gemeenskapsdienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit). Foto: Garnett Wicomb.