OUDTSHOORN NUUS - Janien Müller, 'n matriekleeder van Langenhoven Gimnasium, en reeds 'n gevestigde naam in kunskringe, het onlangs weer bewys dat sy onder die top jong kunstenaars in die land hoort.
Sy het met vyf van haar kunswerke aan die provinsiale ronde van die gesogte Con Spirito-kompetisie deelgeneem en uitmuntende uitslae behaal.
Al vyf haar werke is met A+++ grade (95%, 95%, 96%, 96% en 97%) bekroon. Boonop is sy in elk van die vyf kunsmediums, waterverf, houtskool, kleurpotlood, grys potlood en gemengde medium, as itemwenner aangewys.
Haar werk is deur na die nasionale Forte-ronde, wat in Augustus 2025 plaasvind.
Die jong kunstenaar se talent is ook onlangs erken in die POORT-kompetisie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Haar illustrasie is as die wenontwerp gekies vir die POORT-boek, wat binnekort beskikbaar sal wees. Die boek is 'n versameling van jong kunstenaars se unieke en skeppende werk.
Die POORT-kompetisie is daarop gemik om skeppende talent onder hoërskoolleerders te ontdek, aan te moedig en aan 'n breër gehoor bloot te stel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’