OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die week in 'n verklaring hul ongelukkigheid uitgespreek na nog 'n voorval van vandalisme by een van die dorp se swembaddens.
Ongeveer 'n week gelede het jeugdiges die Bridgton-swembad se hek oop forseer en in die swembad geklim.
Die polisie was op die toneel, maar kon nie die skare onder beheer bring of uit die swembad kry nie.
Luidens 'n verklaring, uitgereik deur Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, was die slotte van die hekke by die swembad oopgebreek in die teenwoordigheid van die polisie, wetstoepassers en die sekerheidswagte.
"Daar was te veel mense vir die munisipale wetstoepassers en die polisie om te hanteer. Een van die munisipale amptenare is aangerand en is met voorwerpe gegooi."
Lede van die gemeenskap het ongeveer 'n week terug die Bridgton-swembad die hekke oopgebreek en ingestorm. Foto: Ebenezer Titus
Die munisipaliteit het in die huidige boekjaar reeds meer as R3 miljoen spandeer om die swembad op te gradeer en bykans R200 000 is bestee om die heining te herstel.
Sondag was daar 'n soortgelyke voorval by die NA Smit-swembad. Na wat verneem word was inwoners wat Sondag die swembad wou gebruik ongeduldig omdat die swembad eers 12:00 oopgemaak het. Die inwoners het toe na bewering die grensheining rondom beskadig om toegang tot die perseel te kry. Daar is ook heinings platgedruk en bo-oor die heinings geklim. Dié heinings is Dinsdag deur die munisipaliteit reggemaak.
Volgens Mle kan hulle nie die omstandighede rondom die skade bevestig nie, maar kan hulle wel sê dat daar slegs 'n sekere hoeveelheid mense op 'n slag by swembaddens toe gelaat word.
"Wanneer die totaal bereik is word niemand weer toegelaat op die perseel nie."
Die publiek word gevra om insidente van vandalisme by 044 203 3090/3086 aan te meld.
Teen Dinsdag was al die swembaddens behalwe Bridgton-swembad oop, maar werk die munisipaliteit daaraan om dit so spoedig moontlik vir die publiek oop te maak.
Toegangsfooie en tye wat die swembaddens oop sal wees, is soos volg:
Die swembaddens is daagliks, insluitend openbare vakansiedae vanaf 10:00 – 18:00 oop.
Sondae is die swembaddens tussen 12:00 en 18:00 oop, maar sal op Kersdag gesluit wees.
Kostes:
Studente en kinders onder 12
- Daagliks - R6
- Maandeliks - R108
- Seisoen - R216
Volwassenes
- Daagliks - R18
- Maandeliks - R204
- Seisoen - R421
Mle het verder gesê dat die munisipaliteit die gemeenskap op hoogte sal hou indien swembaddens vir 'n spesifieke rede nie vir die publiek oop sal wees nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’