PRINS ALBERT NUUS - Die bekroonde Prins Albertse filmmaker Johnny Breedt begin binnekort in Kaapstad saam met ’n internasionale produksiespan werk om ’n roman te verfilm waarvan meer as 'n miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop is.
Redeeming Love, deur die Amerikaanse skrywer, Francine Rivers, word van September tot Desember in Kaapstad geskiet.
Dit is die soveelste oorsese filmproduksie waarin Breedt as produksiehoof optree. Ander films waarby hy betrokke was, sluit in Hotel Rwanda, Mandela – Long Walk to Freedom, Eye in the Sky, Replicas en Sergio wat binnekort vrygestel word. Vir Mandela het Breedt ’n SAFTA, (South African Film and Theatre Awards) vir produksieontwerp gewen. Hy het ook ’n boek, The Art Direction of Mandela: The Long Walk To Freedom, geskryf.
Hy word deesdae as een van die wêreld se voorste stelontwerpers beskou. Hy was die draaiboekskrywer en regisseur van Die ontwaking, gegrond op die spanningsroman, Abel se ontwaking, deur die Afrikaanse skrywer Chris Karsten. Dis in 2014 vrygestel.
Breedt, wie se vrou, Yvette, ’n eetplek/geskenkwinkel in Prins Albert het, woon om die beurt hier en in Los Angeles. Hy het reeds permanente verblyfreg in die VSA en is ’n lid van die Art Directors’ Guild of America.
Breedt maak gebruik van Suid-Afrikaners in die kunsdepartement van die film, wat kunsdirekteure, stelversierders, rekwisietemeesters en stelbouers insluit.
Hy het gesê die filmspan wag nog op die finale groen lig om met hul werk te begin.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'