OUDTSHOORN NUUS - Met die aanpassing van inperkingsmaatreëls na vlak 1, kon die besigheidskamer verlede Donderdagaand die geleentheid gebruik om weer 'n netwerkaand aan te bied.
Die maandelikse netwerkaande is sedert 2020 talle kere in die wiele gery as gevolg van inperkingsmaatreëls.
Besigheidseienaars het Donderdagaand se geleentheid aangegryp om weer figuurlik skouers te skuur en die beskikbare plekke is gou opgeraap aangesien slegs 'n sekere aantal kaartjies beskikbaar was om aan Covid-19-reëls te voldoen.
Die Boomhuis in Victoriastraat was die gasheer van die aand en die bestuur het die geleentheid gebruik om hulle unieke sakemodel te verduidelik.
Die Boomhuis is 'n sosiale cannabis-klub wat slegs vir lede toeganklik is. Die doel van die klub is egter veel groter as bloot 'n sosiale klub. Volgens Yolande Visagie, een van die direkteure, is hulle aan die voorpunt met ontwikkeling van talle sulke klubs in Suid-Afrika.
"Daar is 'n geweldige wanpersepsie oor cannabis. Aan die eenkant is daar die negatiewe stigma wat daaraan kleef en aan die ander kant is daar ook grootskaalse onkunde oor wat die wet tans oor cannabis bepaal en ook oor die voordele van 'n gereguleerde cannabis-bedryf. Ons primêre doel is om mense in te lig en bewus te maak van die voordele van cannabis en die groot ekonomiese rol wat dit onder huidige wetgewing kan speel."
Tydens die netwerkaand het die besigheidskamer se voorsitter, Jaco Vorster, ook aangekondig dat hy vanaf 1 Oktober as voorsitter terugstaan aangesien hy van voorneme is om as kandidaat aan die opkomende plaaslike verkiesing deel te neem. Die ondervoorsitter, Stephan Cornelissen, sal as voorsitter waarneem.
Ses besighede het ook tydens die netwerkaand hulle sertifikate as nuwe lede van die Oudthoorn-besigheidskamer ontvang en geleentheid gekry om iets oor hulle ondernemings te sê.
Die besighede was: Bakgat Biltong & Deli (Freddie Burger), Build It Oudtshoorn (Pieter Coetzee), Eden Tweekamp / Biathlon (Dave van der Walt), Pinnacle Systems (Hannes Viljoen), Rawson Properties (Isadore Langenhoven) en Verlinde Properties (Bert Verlinde).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'