OUDTSHOORN NUUS - Familie en inwoners in Oaklahomastraat, Rosebank, het hul harte oopgemaak rakende die afsterwe van wyle Petrus Konstabel (53) wie se liggaam op 31 Desember langs die pad by Winston Linford Motors in Voortrekkerweg gevind is.
In gesprek met die groep vroue vertel hulle hartseer dat Konstabel vir hulle soos 'n pa en oom was. "Ons was lief vir hom en het altyd ons deure vir hom oopgemaak terwyl hy wel 'n huis gehad het waar hy telkens toegang geweier is. Hy het sy hart baie met ons uitgepraat. Die ergste was dat hy selfs een aand buite sy huis by die hond moes slaap. Volgens Liezl Claassen, wat hom goed geken en baie met hom gewerk en gesels het, het hy vertel hoe hy daardie oggend met trane in sy oë na die hond gekyk het. Hy het baie seer gehad waarmee hy moes saamleef; seer wat onnodig en eintlik wreed was. In ons straat was hy altyd welkom. Hier is ons almal soos familie. Hier staan ons bymekaar, sorg vir mekaar, lag en huil saam", vertel sy.
Gertruida Lukas, een van die buurvroue, vertel sy het 'n houthok agter haar huis opgeslaan vir Konstabel sodat hy 'n veilige hawe en 'n dak oor sy kop kon hê. "Dit terwyl hy wettig in sy oorlede ma se huis kon woon, maar hy was nie welkom daar nie."
Lizelle Claassen, wyle Konstabel se een dogter, het uit die Kaap gekom om begrafnisreëlings te tref, maar sy sukkel om sy dokumente by die mense te kry wat in sy huis woon. "Ek wil my pa met respek uit my ouma se huis begrawe soos sy wens was."
Volgens die vrouens was hy nie haweloos, 'n dwelmgebruiker of drinker nie. "Hy was 'n asma-lyer en het ook diabetes gehad."
"Petrus was altyd skoon en netjies, maar die hartseer van sy omstandighede het hom telkemale gedwing om eerder op straat te slaap." Volgens hulle is hulle bitter ongelukkig oor wat met Konstabel gebeur het en oor die omstandighede wat direk daartoe gelei het.
Lukas vertel Petrus was 'n tuinier wat meestal by die weermagkamp gewerk het. "Hy het altyd baie gesels, stories vertel en was baie lief vir diere."
Die groep vroue is bitter hartseer oor die omstandighede waarin Konstabel gesterf het. Claassen noem dat hy wel sieklik was en onlangs in die hospitaal was vir sy toestand. "Ons wil nie die Here se werk bevraagteken nie, maar hy kon in sy huis of in die hospitaal met respek gesterf het; nie op die manier waar hy in 'n situasie geplaas is waar hy ongeliefd gevoel het nie. Met die uitstap, wys die vroue na 'n enkele voetspoor in die sement. "Dit is Petrus se voetspoor wat hier lê. Dit en goeie herinneringe is nou al wat ons in Oaklahomastraat van hom oor het."
Konstabel laat vyf kinders, vier dogters, 'n seun en vier kleinkinders agter. Die familie wag nog vir die nadoodse ondersoek om afgehandel te word voordat hulle hom die respekvolle begrafnis kan gee wat hulle voel hy verdien.
Kranslegging
Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het aan Oudtshoorn Courant bevestig hy is in verbinding met die familie. Die OCAC wil 'n kranslegging vir die gebroke familie moontlik maak. Die datum en tyd sal nog bevestig word. Die kranslegging sal plaasvind by die plek waar hy in Voortrekkerweg gesterf het. "Ons vra voorbidding vir Petrus se kinders, kleinkinders, familie en vriende in hierdie moeilike tyd van hartseer," sê Campher.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’