OUDTSHOORN NUUS - Pastoor Christo Nel van Bread of Life Ministries en omroeper by Heartbeat FM, en Lisa Cremer, hoofaanklaer in Oudtshoorn en gemeentelid van Bread of Life Ministries, het hul eerste gesamentlike boek, Come Up Higher, bekendgestel. Hierdie boek ondersoek Bybelse beginsels en bied lesers geestelike leiding in 'n tyd waar baie beginsels misverstaan word. Come Up Higher fokus daarop om mense se denke en lewensbenadering volgens die Skrif te belyn.
Nel en Cremer verduidelik dat nie een van hulle teologiese opleiding het nie, maar dat beide van hulle 'n passie vir die Woord en ook sy oorsprong het.
Cremer sê sy het 21 jaar gelede die New King James uit Hebreeus en Grieks begin vertaal.
"Aan die begin was dit moelik, want ek ken nie die tale nie, maar het later, te danke aan toepassings en die internet, het ek geleer hoe. Ek het agter gekom dat baie van die betekenis van die verhale uit Die Bybel half hul krag deur die vele vertalings verloor het. Daar is byvoorbeeld sinonieme vir woorde wat meer letterlik in Die Bybel gebruik word wat weens die vertaling die geestelike betekenis verloor het."
Nel het 27 jaar gelede presies dieselfde gedoen, maar was op daardie stadium aan die anderkant van die land.
Ongeveer agt jaar gelede het hulle paaie in Oudtshoorn gekruis na 'n vriendin van Cremer haar van Nel se werk vertel het.
"Ons het begin gesels en saam met mekaar begin werk, en hier het ons nou ons eerste boek bekendgestel."
Volgens Nel is dit die eerste een van 'n reeks wat hulle gaan bekendstel.
Cremer sê dat hulle doel nie is om enige geloof of Bybel onwaar te maak nie, maar bloot die beginsels van die Woord, soos dit destyds opgeskryf is, aan mense oor te dra.
"Die boek is ook nie verteenwoordigend van 'n kerk of dominansie nie. Ons probeer slegs die oorspronklike beginsels soos dit geskryf was oordra."
Jacobus Francis, wat die boekbekend-stelling geopen het, het dit beskryf as 'n kragtige en betekenisvolle bydrae tot die literêre wêreld van spiritualiteit.
Godsdienstige en geestelike literatuur is een van die vinnig-groeiende genres in die boekmark. Francis het dit in konteks geplaas deur na bekende werke soos Revealing Revelations deur Amir Tsarfati en Rick John, en Die Wederkoms deur Stephan Joubert, te verwys.
Hy het beklemtoon dat Come Up Higher egter uitsonderlik is vanweë die manier waarop dit teruggaan na die oorspronklike Bybelse tale. Dit gee die teks 'n unieke neutraliteit en interdenominasionele karakter wat kontroversie en teenspraak beperk.
Die boek bied ook waarde as 'n studiegids vir studente, teoloë en gewone Bybellesers. Dit is deeglik nagevors en verweef historiese en kulturele kontekste met moderne ervarings, wat dit relevant maak vir die 21ste eeu.
Die skrywers gebruik metafore, stylistiek en pragmatiese taal om 'n diepgaande en dinamiese leeservaring te bied.
Francis het verder uitgelig hoe die boek 'n verkenning is van menslike spiritualiteit met intellektuele helderheid en integriteit. "Dit is 'n boek wat nie net hoër insig bied nie, maar ook dieper laat kyk na die wortels van ons geloof en begrip. Dit is 'n moet-lees!"
Die boek is beskikbaar by www.breadoflife.co.za of Cremer of Nel beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’