Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Mens kan sit en wag dat die munisipaliteit iets doen en kla oor wat nie gedoen word nie of jy kan soos twee nuwe intrekkers, besluit om self iets te doen.
Himine Bothma en Linda van Rensburg het sewe maande gelede as afgetrede verpleegkundiges in Oudtshoorn kom vestig.
"Ek ry graag fiets en het gesien Parkweg kort bietjie aandag, toe besluit ek en Linda om ten minste net die bome te snoei, maar toe begin ons sommer skoffel ook," het Bothma verlede Vrydag op die middelmannetjie van Parkweg oorkant die Infanterieskool gesê.
Die twee het die afgelope drie weke elke oggend om 06:00 met hulle blou Fiat aangemeld en tot 09:00 gewerk.
Teen verlede week het hulle bykans 'n kilometer se bome gesnoei en bossies uitgehaal wat deur die munisipaliteit weggery word.
"As elke inwoner slegs die sypaadjie voor sy eie huis of besigheid skoon maak, sal Oudtshoorn weer die skoon dorp wees wat ons deur al die jare leer ken het," sê Van Rensburg.
Volgens hulle lyk groot dele van Oudtshoorn uitstekend in vergelyking met ander dorpe en om die hele dorp skoon te kry is bloot 'n kwessie van elke inwoner wat sy deel doen, reken hulle.
Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer het ook Vrydag met die twee ywerige tuiniers kennis gemaak en gereël dat die munisipaliteit onkruiddoder op die middelmannetjie spuit om te verhoed dat nuwe onkruid opslaan.
Hy het hulle vertel van die Ek is Oudtshoorn-inisiatief wat reeds 1 600 bome in en om Oudtshoorn geplant het. Inwoners het ook stilgehou om met die dames te gesels en hulle te bedank vir die inisiatief.
Bertie Etsebeth, 'n werknemer van die distriksmunisipaliteit, het met sy vragmotor stilgehou en die twee dames met sjokoladestafies beloon. "Ek ry elke oggend hier verby en dan sien ek hulle hier werk, toe besluit ek hulle het iets vir energie nodig en ook sommer om dankie te sê vir wat hulle doen," het Etsebeth gesê.
Bothma en Van Rensburg doen 'n beroep op alle inwoners om 'n klein deeltjie by te dra om die dorp skoon te kry. "Iemand moet dit doen waarby die munisipaliteit nie uitkom nie. Dit help nie om te sit en mor nie, gebruik eerder daardie tyd om drie bossies uit te trek en 'n paar papiere in jou buurt op te tel," was hulle boodskap aan inwoners.
Jaco Vorster, voorsitter van Oudtshoorn-besigheidskamer, gesels met Himine Bothma en Linda van Rensburg.
Vorige artikel: Afgetredenes rol moue op
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'