OUDTSHOORN NUUS - Baron van Reedestraat in Oudtshoorn is een van die dorp se hoofslagare in terme van beide die ekonomie en toerisme.
Menigte besighede is in hierdie straat gevestig en die straat lei ook na baie besienswaardighede wat toeriste na die dorp lok.
FOTOGALERY: Oudtshoorn se Baron van Reedestraat
Buiten restaurante en kuierplekke huisves die straat byna ontelbare besighede, kunsgalerye, antieke winkels en nog vele meer. Baron van Reedestraat lei mens ook na Schoemanshoek aan sy eindpunt, na wynplase, volstruisplase, ook na die wêreldbekende Cango Wildlife Ranch en Kango-grotte.
Dit lei besoekers aan die KleinKaroo ook na die skilderagtige dorpie van Prins Albert.
10 interessante feite van een van Oudtshoorn se besigste strate wat inwoners dalk nie geweet het nie:
- Baron van Reedestraat is bekend as Oudtshoorn se eie "goue-myl" weens die besighede, hotelle en gastehuise, restaurante en besienswaardighede wat in die straat gevestig is.
- Die straat was in die beginjare van die dorp bekend as Koninginstraat, of Queen Street, vernoem na die destydse Britse koningin Victoria.
- Die straat en dorp het sy naam van die senioramptenaar en goewerneur van die Nederlandse Kaapkolonie, Baron Pieter van Reede van Oudtshoorn (8 Julie 1714 – 23 Januarie 1773), gekry. Van Reede word as die stamvader van die Van Reede van Oudtshoorn-stamboom in Suid-Afrika geag.
- Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit se wapen is gebaseer op die familiewapen van die Van Reedes van Oudtshoorn.
- Die Queen's Hotel, 'n bekende gebou in die straat, is sedert die 1880's 'n ikoniese landmerk van die dorp.
- Die CP Nel-museum, voorheen 'n seunskool in die dorp, vorm so te sê die hoeksteen van Baron van Reedestraat waar dit kruis met Voortrekker- en Langenhovenweg. Die CP Nel-museum spog met die oorspronklike naam van Oudtshoorn Courant wat in klip uitgekap is. Die koerant is in 1879 gestig. Elke eksemplaar van dié koerant word sedertdien in die argiewe van die museum gestoor.
- Die Prince Vincent-gebou, wat vandag 'n hele paar bekende besighede huisves, is al vir byna 200 jaar in Baron van Reedestraat. In 1967 word Prince Vintcent en Kie, wat vandag nog op presies dieselfde plek in Baron van Reede staan, 127 jaar oud. In 1840 koop die Hollander Joseph Vintcent 'n bestaande saak in Mosselbaai. Prince was tot 1890 die ander vennoot. Mosselbaai se hawe was toe die hartklop van die Suid-Kaap se in- en uitvoere. Spoorweë was nog nie aangelê nie. Reeds in 1846 toon die onderneming enorme winste. Takke word in Oudtshoorn en George geopen. Die Kleinschmidts bestuur die Oudtshoorn-tak.
- Baie sandsteenhuise in die straat is reeds in die latere deel van die 1800s gebou.
- Die Presbiteriaanse Kerk oorkant die Prince Vincent-gebou se hoeksteen is reeds in 1923 gelê.
- Die St Saviour Rooms Katolieke Katedraal is in 1967 opgerig en is die kerk van die biskop van Oudtshoorn en die moederkerk van die hele bisdom wat vanaf Plettenbergbaai in die ooste, Victoria-Wes in die noorde tot by Ceres in die weste strek. Die kerk se klokke is in 2022 na byna 22 jaar se afwesigheid weer by die kerk - in 'n spesiaal-geboude toring geïnstalleer. Elkeen van die vier klokke het hul eie naam: Salvator Mundi (Redder van die wêreld) - wat na Jesus Christus verwys en ook die St Saviour; Advocata Nostra (Ons advokaat) - wat na Maria, moeder van Jesus verwys; Apostolatum Significer (Apostoliese boodskapper) - simbool van die verkondiging van die evangelie en Protector Ecclesiae - beskermer van die kerk, St Joseph.
Die Prince Vincent-gebou vandag. Hierdie gebou huisves 'n klomp besighede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’