OUDTSHOORN - Die storie van die jong meisie met die geswelde tong het oor die laaste jaar verskeie gebruikers op sosiale media se harte aangeraak.
Arabella Skylar Leeuw (4), se ma, Tamson, het haar storie van die skaars siekte waarmee haar dogter gediagnoseer is op Facebook begin vertel.
Arabella is op 18 Julie 2018 met haar naelstring om haar nek, in die Oudtshoorn-hospitaal gebore, en het eers vier minute ná haar geboorte begin asemhaal.
Tamson en Jason Leeuw, Arabella se ouers, het dadelik besef dat daar iets met hulle dogtertjie fout is toe hulle sien dat haar tong buite haar mond is. Arabella is gediagnoseer met limfoom vaskulêre misvorming en sy was tot en met Februarie vanjaar onder die Rooikruis-kinderhospitaal se toesig vir behandeling.
Wat is limfoom vaskulêre misvorming (lymphoma vascular malformation)
Limfoom vaskulêre misvorming is die gevolg van abnormaliteite in die ontwikkeling van die limfatiese vaskulêre stelsel tydens embrionale groei en word as 'n redelike skaars siekte geklassifiseer. Volgens Tamson is Arabella die eerste geval waar die misvorming op die tong voorgekom het. "Dit kom gewoonlik op die bors of in die nek voor, maar die Rooikruis-kinderhospitaal het vir ons gesê dat dit die eerste keer is dat hulle dit op die tong sien."
Voor is Arabella en haar broer, Jayson. Agter is Arabella se pa, Jason, haar ma Tamson en die sangeres, Nadine.
Arabella se uitdagings vóór die operasie
Die Leeuw-egpaar het baie uitdagings gehad, onder andere dat wanneer hulle buite rond beweeg het met Arabella, sy deur oud en jonk aangestaar was en talle opmerkings oor haar tong moes aanhoor. Tamson vertel dat Arabella so bewus geraak het van mense se opmerkings dat sy later glad nie meer in die publiek wou rondloop nie.
Tamson moes Arabella ook van geboorte af op 'n sagte dieet plaas, omdat sy nie enige kossoorte kon eet nie.
"Sy het vreeslik verstik en dan het haar tong sommer erg begin swel. Ek het haar kos agter op die tongetjie gesit en dan het sy dit agtertoe beweeg en gesluk. Sy het ook drie keer ophou asemhaal en ek moes net altyd keer dat sy nie verkoue kry nie."
Arabella en haar ma in die hospitaal voor haar operasie.
Arabella kry hulp
Toe Nadine, beroemde Suid-Afrikaanse sangeres en háár persoonlike assistent, die storie van Arabella op Facebook sien, het hulle dadelik betrokke geraak en die maatskappy AE Switch genader vir hulp. Tiaan Lombard, CEO van AE Switch het in Mei vanjaar die goeie nuus, dat húlle al Arabella se mediese- en rehabilitasie kostes sal betaal, met die Leeuw-familie gedeel.
Arabella word geopereer
Op 1 Junie vanjaar het dr. Hermann Kluge, kaak-, gesig- en mond-chirurg van Cintocare in Pretoria die nege uur lange operasie, om Arabella se tong te verklein, uitgevoer. Die hele gedeelte van haar tong wat buite haar mond was, asook 'n gedeelte in die middel van haar tong, is verwyder om haar smaak te behou.
"Toe sy haarself die eerste keer na die operasie in die spieël sien, was haar ogies blink en haar woorde aan my was, 'my ma ek het 'n regte tong', sy het baie goed gevorder, en is vyf dae later uit die hospitaal ontslaan," vertel Tamson.Arabella met geboorte.
Die pad vorentoe vir Arabella
Arabella ontvang tans spraakterapie om haar te help om weer haar tong op die regte manier te gebruik wanneer sy praat. Tamson vertel dat Arabella die aanlyn Zoom-spraaklesse ook baie geniet, maar dat dit 'n groot uitdaging is met beurtkrag en hulle nie altyd die lesse kan bywoon nie omdat die spraakterapeut op afsprake werk. Arabella ervaar nie meer baie pyn na die operasie nie, en volgens Tamson vorder sy baie goed.
"Arabella het nog steke op haar tong en sy hoef nie weer te gaan vir 'n operasie nie. Daar is 'n moontlikheid dat die gogga terug kan groei, maar dit kan behandel word, sy moet net goed gemonitor word," vertel Tamson.
Boodskap van hoop
Tamson en Jason is dankbaar vir die hulp wat hulle vir Arabella ontvang het en dat sy nou 'n normale lewe kan lei en kan speel net soos ander dogtertjies.
"Ons wil graag haar storie van hoop met ander deel wat deur moeilike tye gaan, daar is altyd hoop. Arabella verjaar ook volgende week, sy is mos op Mandeladag gebore," sê Tamson.
Arabella voor haar operasie. Haar vergrote tong het soms gebars en dan gebloei as dit opgeswel het. Fotos: Tamson Leeuw
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'