Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Marlene Malan het verlede week by haar man, Daniel Hugo, in Nederland aangesluit waar hy die afgelope aantal maande lesings aanbied en vertaalwerk doen. Sy deel haar indrukke van die Kersseisoen in Amsterdam met ons:
Begin Desember loop ek in Sinterklaas vas – op die plein voor die Rijksmuseum in Amsterdam. Kinders stroom agter hom aan, ouers tel kleintjies op en druk teen hom aan vir selfies van die hele gesin. Almal wag vir 'n goeie woordjie van die statige oom met die wit baard wat die jongelinge vra: Was julle soet vanjaar?
Kersvader kom darem vroeg in Nederland, dink ek 'n oomblik lank. Maar besef, toe ek Sinterklaas se metgesel, Piet, langs hom sien, dat Suid-Afrikaners baie maklik die fout kan maak om dié twee met mekaar te verwar. Sinterklaas is
nié Kersvader nie. Ondanks die allermooiste Kersversierings in die winkelvensters is 6 Desember, St. Nikolaasdag, 'n veel belangriker dag as Kersfees. Dis veral die gebruik in Nederland, België, Luxemburg en die ordelike dele van Frankryk om geskenke op St. Nikolaasdag uit te deel.
Ons gasvrou by ons verblyf aan Prinsengracht in Amsterdam gee vir ons sjokolade en Nederland se topverkoperboek tans, die digbundel van Lévi Weemoedt, Pessimisme kun je leren!
Ses maande gelede besluit ek om Kerstyd in die Lae Lande te vier – hoofsaaklik Amsterdam. Byna al my vriende bevraagteken die besluit: In die koue? Hoe kan jy 'n somer-Kersfees vir 'n ysige een verruil?
My verweer: Soms moet 'n mens jou gemaksone prysgee vir 'n nuwe ervaring.
Hier ontdek ek toe die hele Desember is 'n feesmaand, van Sinterklaas tot Kersvader. Hier besef ek waarom Kerskaartjies met 'n Kersvader, takbokke en 'n slee, met Kersboompies met sneeu op die blare so mooi is. Sneeu het ek nog nie hier ervaar nie, maar dit reën elke dag saggies (ek wens ek kon die wolke Karoo toe stuur) en die koue laat mense warmte soek in eetplekke en kroeë. Hier is Glühwein, bier en rooiwyn, die lekkerste appel- en piesangpoffers en pannekoek met oneindig baie vulselmoontlikhede. Op die groot Albert Cuyp-mark koop ons diepgebakte "kibbeling" (kabeljou) en southaring, sjokolade en warm stroopwafels. Ons kies elkeen 'n nuwe serp en winterstewels by die straatstalletjies. In 'n "bruinkroeg" (so genoem vanweë die baie houtafwerkings) drink ons wyn en eet Hollandse kaas en salami daarby. By die blommemark koop my man vir my fyn houttulpe.
Die winkelvensters is asemrowend versier en vra vir window-shopping soos in my kleintyd. Saterdagmiddag laat besoek ons die groot boekwinkel Scheltema (vier verdiepings). Die winkel is propvol mense – hulle koop armsvol boeke.
Die aand stap ons kilometers ver huis toe onderdeur rojale Kersliggies.
Kerstyd in Amsterdam gee my die kans om Zuid-Afrikahuis te besoek en na die voorlesings en besprekings van digters en romanskrywers daar te luister.
By die ingang van die Rijksmuseum, onderdak natuurlik, speel 'n vierman-straatorkes Vivaldi – jong mans met die talent van simfonieorkeslede.
Twee trekklaviere verskaf die klank van kerkorrels, en daar is – behalwe die entoesiastiese viool – sowaar 'n luit!
Binne staan ek lank by Rembrandt se Nagwag en die werke van Vermeer en Rubens. Skilderye wat 'n paar honderd jaar oud is.
Ons klim op 'n gragteboot en vaar 'n uur lank op 'n sirkelroete deur die stad, sien huise langs die water waarop "1653" en "1740" staan. Die toergids vertel die stad is op "sagte grond" gebou – kyk, sê hy, hoe min werklik hoë geboue hier is. Dis 'n stad met 2 500 huisbote op 165 gragte wat uit die sewentiende eeu dateer.
Langs die water voer 'n vrou 'n swaan.
Vir my is die aantreklikste die gemaklikheid waarmee die mense met mekaar saamleef. Voetganger, fiets, motor en trem gebruik die openbare ruimtes sáám, sodat dit na die doodgewoonste ding op aarde lyk.
Nederlanders bied jou 'n sitplek aan hul tafel in 'n propvol kroeg aan. Nêrens sien ek diefwering nie.
Ek het die kans om 'n maand lank buite my bekende veilighede te beweeg, om aan te pas binne in 'n vreemde omgewing waarin ek elke dag welkom voel. Ek kry dié Kerstyd baie meer as wat ek nog ooit gegee het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'