OUDTSHOORN NUUS - Dit gebeur nie dikwels dat drie skrywers en 'n musikant buite feestye in Oudtshoorn optree nie, maar Vrydagaand 20 September gebeur dit wel. Twee digters, 'n romanskrywer en 'n liriekskrywer vat om 18:30 by die klein Karoo Ostrich Emporium die mikrofoon om hulle stories, gedigte en musiek te deel.
Naledi het vanjaar die debuutdigbundels van Pieter Hugo (broer van Daniel Hugo) en Hannes Visser uitgegee, Dié uitgewer het ook twee spanningsromans, Die Medusa-kode en eMajuba, van die skrywer, Dawie Louw, uitgegee.
Visser en Hugo se digbundels Die jaar toe pa... en Alchemie van my muse, het albei puik ressensies van kenners ontvang. Albei digters is ook gekies om deel te neem aan die televisiereeks, Ek wou nog sê..., wat vanaf 16 Oktober op VIA (DSTV kanaal 147) uitgesaai word.
Dawie Louw, woon op 'n plaas buite Uniondale en het reeds bykans 100 kortverhale in tydskrifte gepubliseer. Die drie skrywers se boeke sal by die geleentheid te koop wees.
Die roos onder die die drie dorings is plaaslike musikant. musiekonderwyser en liriekskrywer, Marisca Rain (Visagie). Sy en visser het in April saam opgetree en bykans 60 mense het die aand bygewoon.
Sy gaan van die voorlesings met musiek aanvul en ook van haar eie liedjies sing.
Marisca Rain. Foto: Kristy Kohlberg
Anita Froneman van Naledi sal ook teenwoordig wees indien voornemende skrywers vrae het rondom die proses om 'n boek te publiseer.
Toegang is gratis en drinkgoed kan gekoop word.
Die skrywer Dawie Louw. Foto: Hannes Visser
Die digter, Pieter Hugo. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'