OUDTSHOORN NUUS - Die CP Nel-museum, sowel as die CJ Langenhoven-biblioteek, sal na hul deure vir bykans ses maande weens die nasionale inperkings gesluit was, weer vanaf 21 September vir die publiek oop wees.
Biblioteek
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is verskeie veiligheidsmaatreëls in plek om die veiligheid van personeel en besoekers te verseker.
"Die personeel is sedert 24 Augustus by die werk om seker te maak alles verloop seepglad wanneer die biblioteek se deure weer oopmaak."
Die volgende maatreëls sal vir personeel en besoekers geld:
- Rekenaarsessies moet vooraf bespreek word.
- Geen uitreikprogramme sal gehou word nie.
- Kinders onder die onderdomme van 12 jaar mag nie self boeke uitneem nie. Ouers en voogde kan dit wel namens hulle doen.
- Personeel gaan boeke wat terugkom in bokse sit waarna die bokse in isolasie geplaas gaan word.
- 'n Besoekersregister moet ingevul word en besoekers se koors gaan geneem word en hul hande moet ontsmet word.
- Geen tydskrifte en koerante mag gelees word of uitgeneem word nie.
- Besoekers mag vyf boeke vir volwassenes en vier boeke vir kinders vir twee weke uitneem.
- Besoekers het ook net 15 minute om boeke af te laai en uit te neem.
- Personeel sal van 08:00 af by die biblioteek wees, maar die biblioteek is vanaf 10:00 tot 16:00 vir die publiek oop. Dit sal op Saterdae gesluit wees.
- Fotostate kan steeds gemaak word, maar geen projekte mag by die biblioteek gedoen word nie.
- Geen CD's en video's mag uitgeneem word nie.
Museum
Weens die inperkings sal streng reëls en regulasies toegepas word en ure is ook aangepas.
Die museum is Maandae tot Vrydae vanaf 09:00 tot 15:00 oop en sal Saterdae, Sondae en publieke vakansiedae gesluit wees.
Slegs 36 persone word op 'n slag in die museum toegelaat.
Daar sal ook ontsmettingsstasies in die gebou wees.
Gesigmaskers is verpligtend vir besoekers, sowel as die personeel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'